Genade word konkreet ervaar. Genade kán nét ervaar word.
Kyk hoe deel Paulus sy ervaring hiervan in 1 Timoteus 1:12-14:
“Teenoor Christus Jesus ons Here is ek dankbaar: Hy het my
krag gegee en my betroubaar geag om my in sy diens te stel,
al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig. Maar
God was genadig teenoor my omdat ek in my ongeloof nie
geweet het wat ek doen nie. Ons Here het my oorlaai met
sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus
Jesus.” Eintlik moet ons hierdie verse weer en weer lees,
en onsself hierin ervaar!
Om genade te verstaan beteken om genade te ervaar.
Ons kan eintlik maar net uit ervarings-kennis van genade praat.
Ons kan nie anders nie. Wanneer jy in die donkerste dieptes,
weg van God, sy hand op jou skouer gevoel het, dan weet jy
baie goed van genade. Wanneer jy in sonde bankrot en
stukkend voor Hom opgedaag het, met absoluut niks om aan
te bied nie, dan ken jy genade. Dan kan jy nooit meer anders
as om oor genade te praat nie. Want dan besef jy dat God
mense soos jý terugneem, wat eenvoudig niks het om aan
God aan te bied nie.
Genade maak dat jy omdraai en na God toe begin leef.
Wanneer dit gebeur verander alles radikaal in jou lewe.
Want jy ontdek skielik ook wie jý is! ‘n Verlorene wat op
eie krag en prestasie nêrens is! Wanneer jy God die eerste
keer leer ken as die Heilige, die Almagtige, dan ontdek jy
ook jouself as die armsalige bedelaar wat niks het om aan
te bied vir God nie. Net jou lewe vol sonde. Al wat jy dan
sien en ervaar is sy uitgestrekte hand na jou toe! Dit is die
blywende indruk wat jou nooit laat ophou om te praat oor
jou ervaring van sy genade nie!
Dan begryp jy God aanvaar jou soos jy is. Hy kom haal jou
juis wanneer jy die verste van Hom af is. Dit is genade!
Jy ervaar dit en getuig daarvan in jou lewe!
Ernest