Genade is baie-baie duur! Genade is nie goedkoop nie.
Genade het God alles gekos!
Met die mense se sondeval het dit God sy wêreld gekos wat Hy
geskep het. Die kroon van die skepping het Hom alles gekos.
Van toe af het die sonde alles in die skepping besmet. Maar God
draai nie sy rug op die skepping nie. Hy steek weer sy hand uit na
die kroon van die skepping. En daarna weer en weer en weer...
Maar die mense het aanhoudend hulle rug op God bly draai.
Lees maar net die Ou Testament se geskiedenis van die mens en
God. Hulle kies byvoorbeeld ‘n goue kalf. Die tempel in Jerusalem
gebruik hulle tot hulle eie voordeel, asof God in húlle diens is.
God kom keer op keer terug om te red! Uiteindelik het dit Hom
die grootste offer gekos. Sy eie Seun Jesus Christus. Hy het sy
plek in die hemel prysgegee om eens en vir altyd op die aarde
te kom wys Wie God regtig is! Filippense 2:6-11. Lees dit nou
eers uit jou Bybel en lees dan verder wat hier staan.
Jesus het sy hemelse feesklere ingeruil om vir mense met sy
lewe te kom wys hoeveel God werklik vir hulle omgee. Jesus het
nooit van die lydenspad afgewyk nie omdat Hy die hele genade
pad van God na ons toe gestap het! God se genade het so die
hemel oopgemaak. Dit is die prys wat God betaal het. Hy het
gekies om die duurste prys te betaal uit liefde vir ons!
Dit is genade.
Onberekenbare duur genade. Ons sal nooit volle begrip hê vir
die grootheid van God se genade nie. Ons praat so maklik in
alledaagse terme van genade. Maar God se genade is nie alledaags
nie! Dit is geskryf met die bloed van sy Seun Jesus Christus.
Dietrich Bonhoeffer het treffend oor duur genade en ons lewe
geskryf: “Duur genade is die skat wat in die saailand begrawe lê en
waarvoor ‘n mens graag alles wat jy het, sal wil verkoop om dít te
bekom. Dit is “duur” omdat dit die prys van ‘n mens se hele lewe kos;
en dit is “genade” omdat dit in ruil vir jou lewe die enigste ware
Lewe bied.”
Ernest