Daar is nie iets soos goedkoop genade nie. Genade is duur.
Dit kos God sy Seun. Genade is egter ook verniet! Duur en verniet
weerspreek nie hier mekaar nie. Genade is ook verniet omdat ons
genade uit twee hoeke ervaar. Genade is aan die een kant duur
omdat dit God alles gekos het. Genade is aan die ander kant verniet.
Jy kan dit op geen manier verdien nie. God skenk dit.
Genade is een ding verseker nié: Genade is nooit goedkoop nie!
Net duur en verniet!

God is by niemand in die skuld nie. Hy is God! Maar Hy is die
genadige God. Hy gee sy genade weg sonder dat enige iemand
dit ooit verdien. Wanneer jy in Jesus Christus glo as jou Verlosser
en Here, dan gee God sy genade verniet aan jou.
Dan is jy ‘n begenadigde. Vir altyd!

Genade “tref” jou ook! Onverwags uit die bloute. Die regte soort
genade is die kosbare skat waarop jy onverwags afkom. Dan doen
jy alles in jou vermoë om dit te ontvang! Dit is die nuwe lewe wat
jy kry! Genade verstom jou. Dit laat jou elke dag jou seëninge tel.
Dit laat jou wonder: Hoekom ek? Dan kan jy nie uitgepraat raak
daaroor nie.

Genade maak egter nie van jou lewe en geloof iets selfsugtig en
egosentries nie. Jou geloof word nie ‘n openbare vertoning nie.
Genade doen dit nooit aan jou geloof nie! Genade laat nooit
jou godsdiens om jouself draai nie.

Genade beteken: Alles wat jy is, alles wat jy het, alles wat jy doen,
kom van God af en word gedoen en geleef om Hom alleen te eer.
Daarom moet jy gereeld sekere vrae vra:
Dink ek gereeld na oor die seëninge wat ek uit van God ontvang?
Dink ek gereeld na oor wat Jesus opgeoffer het om my te verlos?
Is ek werklik dankbaar en wys my lewe dit dat ek in Jesus verlos is?
Is my geloof werklik net op God gerig, of dink ek wat ek daardeur
vir myself kan kry?

My geloof moet nadenke oor God se genade wees, en dit moet
konkreet met dankbaarheid geleef word. Ek leef sagter en meer
deernisvol teenoor ander mense omdat ek weet waar ek self
vandaan kom. God het my stukkende lewe aangeraak en my
nuut gemaak! Hoe meer ek God se genade in my lewe ervaar
en erken, hoe meer verander dit my hele lewe.
Dit vloei oor in wat ek dink, praat en doen.
God se genade is so groot!

Genade laat jou terugkyk ook. Genade lê ook in die verlede. Ons pad van gister en eergister is bestrooi met God se genade. God se genade in die verlede het gemaak dat Jesus vir jou gesterf het wat vandag leef. Nou strek jou pad van genade ook ver voor jou uit!

Ernest