Betekenisvol word gesê die kruis is leeg en die hemel vol.
Dit beteken nie daar is nie meer plek in die hemel nie.
Die kruis is leeg en die hemel vol omdat Jesus aan die regterhand
van God sit en die hemel al voller raak deur die genade van die kruis!
Dit is dalk hoekom die Protestantse tradisie verkies om ‘n leë kruis as
simbool te hê, en nie ‘n kruis met ‘n persoon wat nog daaraan vas
gespyker is nie. Jy sien nie sommer ‘n kruis met die Jesus-figuur aan
die kruis in die Protestantse kerke nie. Die klem val op die kaal kruis
en die hemel wat gevul word deur God se genade vir die mens.
Die kruis bly die bekendste simbool van die genade van God!
Die kruis van Christus sluit vergesigte oop:
Die kruis is as’t ware ‘n skildery van God se wonderlike liefde en genade.
Dit vertel ook van die skrikwekkende prys wat dit God gekos het om die
mens te red. Jesus moes die mees vernederende dood sterf om vir ons
sonde te betaal.
Die kruis teken ook nuwe lewe! Dit wys op ons nuwe bestaan by God
vir ewig. Dit is die enigste sleutel na God toe. Ons kan op geen ander
manier gered word as deur die soen-verdienste van Jesus Christus aan
die kruis nie. Sonder die kruis is daar geen nuwe lewe moontlik nie.
Geen ewige lewe by God nie.
Die kruis sê daar is plek in die hemel vir elkeen wat in Jesus Christus glo
tot redding. Jesus is nou daar. Ons plek is daar by Hom. Hy heers aan die
regterhand van God, maar Hy heers ook in ons! Hy woon deur die Gees
in ons! Jesus self waarborg dit!
Die kruis is die teken van God se genade. Dit is die simbool van hoop vir
die wêreld. Kyk na die Man van die kruis, die redder van elkeen in die
wêreld wat in Hom glo.
Ferdinand Deist het oor die kruis gesê: “Godsdiens verdoof jou nie vir
die nare werklikheid nie. Dit beteken ook nie dat jy – terwyl jy op aarde is –
rustig in luilekkerland kan rondlê terwyl God alles op aarde regmaak wat
ons hier verbrou nie. Geloof is harde werk. Dit kos jou duur. Dit is dóén in
plaas van net sê. Dit kan selfs van jou vra om ‘n gemors te help opruim
waarvoor jy nie verantwoordelik was nie. Ware geloof... is kruisdra!
Om jou kruis op te neem en Jesus te volg, is om jouself prys te gee,
soos Christus gedoen het. Maar dit genees en herstel die aarde.”
Christus het aan die kruis gehang vir jou.
Neem nou jou kruis op en volg Hom!
Ernest