Omdat God onvoorwaardelik genadig is, verwag Hy ook van ons
om genadig te wees teenoor ander. God hou nie boek van genade nie,
en ons moet ook nie boek hou van genade nie. Hy verwag van ons om
ook met genade en vergifnis te leef teenoor ander. Matteus 6 sê as ons
nie bereid is om dit te doen nie, ons ook nie op God se genade kan
aanspraak maak nie. Genade ontvang is genade gedeel! Genade vra
dat ons soos God sal vergewe. Jesus leer ons selfs om so te bid!
In Matteus 18 vertel Jesus die aangrypende gelykenis oor vergifnis.
Hy vertel dit nadat Petrus Hom gevra het hoeveel keer ons moet
vergewe! ‘n Man het miljoene geskuld aan ‘n heerser. Hy kon nie
betaal nie. Die heerser doen die byna ongelooflike om hom vry te
maak van al die skuld. Die man loop net daar weg en wil nié iemand,
wat hom net ‘n paar rand skuld, kwytskeld nie. Hy gooi hom in die
tronk! Die koning kom hiervan te hore en is so kwaad dat hy die
man wat hy self kwytgeskeld het permanent laat opsluit.
Die punt van hierdie gelykenis van Jesus is duidelik:
Ons kan nie by God onbeperkte genade ontvang en nie daarvan
deel met ander nie. Dan vat jy al God se genade net vir jouself.
Ons moet ook ons bitterheid en vergelding gesindheid aan die
voet van die kruis gaan neersit. Niemand het die luukse om nie
ander mense te vergewe nie.
Deel God se genade en vergifnis met ander mense.
Ernest