Is genade die moeite werd? Dit is eintlik ‘n vals vraag.
‘n Dwase vraag. Genade is al wat daar is waardeur ons
tot redding kan kom. Dit is die verskil tussen ewige dood
en ewige lewe. Dit is verniet, onverdiend, oorvloedig,
oordadig! Genade hou nooit op nie, en ons wat genade
ontvang het, en nou daaruit leef, weet dit!
Augustinus was reg toe hy gesê het die enigste plek waar
die mens tot rus kom is by God. Genade is God se lang pad
terug na die mens toe!

Dit is God se oop hand gevul met liefde vir ons, sy eertydse
vyande. Daar is geen ander weg as die weg wat God self in
genade bewerk het nie. Het jy al die genade van God werklik
raakgelees en raakgeleef in sy Woord?

Ons vaar nie goed as dit by die genade van God kom nie.
Ons moet die boodskap van genade meer konkreet in die
wêreld indra en uitleef. Dit is eintlik die kerk se enigste hoop
en enigste boodskap. Dit is al wat gelowiges kan bied aan ‘n
sterwende wêreld. Genade is die kerk se boodskap van hoop
op lewe!
God se genade is die geneesmiddel vir die wêreld.

Ons kan hierdie genade net by God gaan vra. En dan moet
ons in die wêreld gaan leef in die greep van God se genade.
Genade is nie die belangrikste hoop nie. Dit is die enigste!

Ernest