Jesus het dikwels Homself beskryf met “Ek is...” uitsprake,
soos “Ek is die weg...”, “Ek is die goeie herder...”, “Ek is die lig...”.
Dit sluit aan by God se Naam “Ek is”. Die “Ek is...” uitsprake van
Jesus help ons om Hom beter te leer ken. Ons wil tog die Here Jesus,
ons Verlosser, beter leer ken. Daarmee het ons dieselfde intense
behoefte wat Paulus gehad het. Hy het ‘n passie gehad om Jesus
beter en beter te leer ken. Hy sê dat om Christus te ken, alles in
waarde oortref – en al wat hy wens is om Christus te ken –
Filippense 3:8,10. Die wonderlike is dat Jesus ons hierin help deur
sy “Ek is...” uitsprake! Daardeur leer ken ons Jesus meer en meer
en kry Hom meer en meer lief!

Ons hemelse Vader het eerste die woorde gebruik van “Ek is..”,
en Jesus sluit hierby aan. Ons Vader het reeds in Eksodus hierdie
verwysing gebruik. In Eksodus 3:14 sê Hy vir Moses dat hy aan die
Israeliete moet sê “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê:
“Ek is” het my na julle toe gestuur.”

Hierdie unieke Naam sê onder andere vir ons dat God se bestaan
in Homself geleë is. Hy het nie sy bestaan aan enige iets of enige
iemand te danke nie. God is nie geskep of uitgedink nie. Al val
totaal alles weg, bly God nog bestaan. Hy is die ewige “Ek is...”.
God was altyd daar, Hy is altyd daar, en Hy sal altyd daar wees.
Niks of niemand kan met God vergelyk word nie.
Ons moet weet hoe wonderlik groot, en ewig Hy is.

Wanneer ons God aanbid, kniel ons voor die God met die
wonderlike unieke Naam: “Ek is wat ek is...”, Ek is...”
Psalm 8:2 roep in verwondering uit: “Here, ons Here, hoe
wonderbaar is U Naam oor die hele aarde.” Ons loof hierin ook
hierdie besondere Naam van God. Daarom sing ons:
“Hoe groot is U...” en “Hoe heerlik, Heer, U grote Naam...”.

Maak spesiale tye in jou lewe om God se grote Naam te loof
en te prys! Doen dit elke dag! Dink net daaraan dat jy in die
teenwoordigheid van hierdie God leef...
Wat ‘n onbeskryflike voorreg om net weer te besef:
Hy is só groot en almagtig! Hy het mý lief!

Ernest