Ons lewe in ‘n wêreld wat heeltyd verander. Niks bly eintlik
dieselfde nie. In dit alles staan God se Naam “Ek is wat Ek is”,
vas en vir ewig. Jesus beskryf dit ook so aan Johannes in
Openbaring 1:4: “Hy is die Een wat is en wat was en wat kom.”
Van Christus self word gesê dat Hy “gister en vandag dieselfde
is en tot in ewigheid” – Hebreërs 13:8. God bly vir ewig getrou
aan sy Naam wat sê Wie Hy is.
Ons klein verstandjies kan dit nie vat nie. ons is gebonde aan
ons eie tyd en omstandighede. Ons kan nie verstaan dat God
altyd daar was, en altyd daar sal wees nie. Net die begrip
“ewigheid” oorweldig ons al. Maar, al begryp ons dit nie,
kan ons in die geloof wat God ons gee, daaraan vashou,
en ons hele ewige toekoms saam met God daarop bou!
Reeds in hierdie lewe is dit my anker, my wete dat my Vader
se Naam is: “Ek is wat Ek is”. Hiermee weet Ek my God is nie
Een wat Homself van my af terugtrek en net êrens in die
hemel is nie. Ons kom dit reeds agter dat Hy vir Moses sê
dat Hy duidelik die ellende sien van sy volk daar in Egipte.
Hy hoor hulle noodkrete en neem hulle lyding ter harte.
Psalm 46:8 en 12 beklemtoon dit ook: “Die Here,
die Almagtige, is by ons”. Die Nuwe Testament sê ook
God is Immanuel, God by ons! – Matteus 1:23.
God kom in die geboorte van Christus konkreet sigbaar
na ons toe! Al was Hy ook nog altyd by ons. Dit vul ons
met dankbaarheid en nederigheid.
Hoe gaan ons dit prakties uitleef in ons daaglikse lewe?
Dink daaroor dat God by jou is, oral, altyd.
Lééf in sy teenwoordigheid, en wys met jou lewe
Hy ís teenwoordig in jou lewe.
Ernest