Jesus het dikwels die woorde “Ek is...” gebruik. Uit die Grieks,
letterlik vertaal, is dit: “Ek, Ek is...” Dit beklemtoon dit is net Hý
wat dit kan sê, niemand anders nie! Jesus het hierdie woorde
die eerste keer gebruik toe Hy met die Samaritaanse vrou by
die put in Sigar gepraat het – Johannes 4. Aan die einde van
hulle gesprek het die vrou vir Jesus gesê sy weet dat, wanneer
die Messias kom, wat ook die Christus genoem word, Hy alles
aan hulle bekend sal maak. Toe sê Jesus openlik vir haar:
“Dit is Ek, Ek wat met jou praat” – vers 26.
Hiermee beklemtoon Jesus die Naam van God “Ek is...”.
Hierdie woorde van Christus kan ook vertaal word met:
“Ek is wat Ek is.”! Hiermee bevestig Christus ook sy Godheid.
Hy gebruik vir Homself dieselfde Naam as wat God gebruik het!
Dit is van kardinale belang vir ons verlossing in Christus.
Die enigste Verlosser wat ons waarlik kan verlos, is een wat
terselfdertyd volkome mens en volkome God is.
Waarom is dit nodig? Ons Verlosser moet volkome mens wees,
want dit is die mens wat gesondig het en Hy moet in die plek
van die mens die straf op die sonde kom dra. Maar geen mens
kan dit doen nie, want alle mense is ewe skuldig aan sonde.
Daarom moet die Verlosser ook ware God wees. Alleen God
kan die mens met God versoen. Alleen deur die krag van sy
Godheid kon Christus die volle impak van die toorn van God
dra. Dit is die wonderlike verlossing van God in Christus,
vir die mens, vir jou persoonlik by naam!
Die vrou by die put vra vir Jesus of Hy die Messias is,
en Hy antwoord: “ Dit is Ek, Ek wat met jou praat.” –
Joh. 4:26. “Dit is Ek, Ek is...”
Glo jy dit? Jy wat hier lees... die belangrikste van God se
Woord is nie hoeveel ons daarvan weet nie, maar of ons dit
met geloof uitleef! Ons moet gehoorsaam gaan uitleef dat
Jesus die Verlosser is wat mens geword het, wat ons kom
verlos het! Ons moet so leef dat dit duidelik is en dat ons
daarmee Jesus se lig laat skyn in die wêreld rondom ons!
Ons dra mos die Naam van Christus! Jy is ‘n Christen.
Beelddraer van Christus! Hoe sigbaar is dit in jou lewe?
Hoor mense dit deur jou getuienis?
Sien mense dit deur jou dade?
Ernest