Jesus beklemtoon ‘n hele paar keer in Johannes 6:32-51:
Ek is die brood!
Brood was die stapelvoedsel in Palestina wat mense aan
die lewe gehou het. Die beeld is vir ons nou duidelik.
Brood word geëet en dit word deel van jou liggaam.
Dit word deel van jou. So moet Jesus ook deel word van jou
deurdat jy Hom deur geloof toe-eien aan jouself. Jy moet
Hom in-neem in jou totale lewe! Jy moet Hom deel van
jouself maak.

Brood help niks vir jou lewe as dit nie geëet word nie.
As dit nie deel van jou word nie. Jesus buite jou, help ook
niks as jy Hom nie jou hele lewe maak nie! Jesus sê:
“Ek is die brood wat lewe gee; Ek is die lewende brood wat
uit die hemel kom.” Die enigste voorwaarde wat Jesus stel
vir iemand wat dié brood soek, is dat hy na Jesus toe moet
kom! Vers 35: “Wie na My toe kom, sal nooit weer honger
kry nie.”

Wat beteken dit om na Jesus toe te kom? As jy na ‘n plek of
persoon toe gaan, moet jy tog wegkom van waar jy nou is.
Om na Jesus toe te kom, veronderstel dat jy afskeid neem
van jou vorige lewe! Jy tree uit jou sondige lewe, na Jesus toe!
Jy gryp Jesus as jou Verlosser aan. Jy aanvaar Hom as die enigste
lewende Brood wat vir jou ware lewe kan gee!

Hierdie is dus ‘n uitnodigings-woord: “Wie na My toe kom,
sal nooit weer honger kry nie.” Dit is soos Matteus 11:28:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is en Ek sal
julle rus gee.”
Kom na Jesus toe. Jy sal nooit weer geestelik honger kry nie.
Hy gee lewe! Ware lewe! Ewige lewe!

Ernest