“Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê:
“Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg sal nooit in die
duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” – Joh. 8:12.
Christus se lig het ‘n besondere eienskap: Dit gee lewe! Toe Jesus
gesê het dat Hy die brood is, het Hy dieselfde van die brood gesê:
Dit gee lewe! Met altwee hierdie uitsprake wil Jesus sê: ‘n Mens
kan die ware lewe net by Hom kry! Buite Hom is daar geen ware
lewe nie. By ‘n ander geleentheid in Johannes 14:6 het Jesus dit
ook duidelik gestel: Ek ís die lewe.

Soos die eerste skepping begin het met die woorde: “Laat daar lig
wees”, so begin die herskepping van die mens met Christus se
uitspraak: “Ek is die lig.” Waar Christus is, verdwyn die duisternis.
Dit geld ook in jou lewe! Hy, die Lig, skyn in die duisternis, en die
duisternis kan dit nie uitdoof nie – Johannes 1:5.
In die Geloofsbelydenis van Nicea word Christus “Lig uit Lig”
genoem. As gelowige het ek hierdie Lig uit Lig! Daarom lewe ek!
Ek moet nou in die lig van Christus vir Christus volg! Hy is die Lig
wat lewe gee.

Wat beteken dit nou om Hom as Lig te volg?
Veral drie dinge: Glo in Hom, gehoorsaam Hom, lewe naby aan Hom,
in die lig! Begryp dit: Christus is nie vir almal die Lig nie. Hy is net die
Lig vir hulle wat naby Hom leef, in die lig! By hulle wat Christus volg
is dit altyd lig! Christus is God se lig, oral. Maar jy moet in daardie lig
lewe. As jy buite daardie lig lewe, leef jy in die donker en sterf in die
duisternis. As jy Hom volg, sê Jesus, sal jy “nooit in die duisternis lewe
nie.” Maar as jy Hom nie in sy lig en as die Lig volg nie, bly jy in die
duisternis en beland jy eendag in die plek wat die Bybel noem die
“diepste duisternis”, en waar mense nooit ooit ophou huil nie
– Matteus 8:12.

Efesiërs 5:8 is nou ‘n treffende woord vir ons om uit te leef:
“Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig.
Leef dan as mense van die lig.” Dit is nou ons roeping en ons lewe.
Ons wat Jesus ken as die ware lig, wat elke mens verlig, wat na
Hom toe kom!
Leef jy as ‘n mens van die lig? Sien mense vir Jesus in jou
lewe en beleef hulle Jesus teenwoordig deur jou lewe.
Laat jou lig óók skyn, in die duisternis.

Ernest