Jesus gebruik die beeld van ‘n skaapkraal as die veilige plek
vir almal wat aan Hom behoort. Die mense in Palestina is
bekend met skape en krale. Hulle verstaan die beeld.
Die enigste manier om in die kraal te kom is deur die ingang.
Daarom is die ingang so belangrik. Jesus sê twee keer:
Ek is die ingang – Johannes 10:7 en 9. Hiermee beklemtoon Jesus
dat daar geen ander manier is om redding te vind as deur Hom nie.
Jesus beklemtoon dit met die woorde: “Dit verseker Ek julle.”
Jesus sê in vers 9: “Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan,
sal hy gered word...” Christus wil jou red. Maar jy moet bereid
wees om in te gaan deur die Ingang, deur Christus. Daar is geen
ander manier om gered te word nie.
Christus praat verder van diewe en rowers wat van “‘n ander kant
inklim”. Hulle kom net steel en slag en uitroei. Nog steeds word
aanvalle op God se kinders geloods. Dit is onder aansporing van die
duiwel. Hy loop rond soos ‘n brullende leeu op soek na iemand om
te verslind – 1 Pet. 5:8. Geen kind van die Here bereik die stadium
waar jy nie meer deur die duiwel aangeval word nie. Daarom leer
Jesus ons ook bid: “Laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos
ons van die Bose.” – Matt. 6:13. Die Here bly egter getrou.
Hy bewaar jou – 2 Tessalonisense 3:3.
Christus is die ingang en die uitgang van die skape. Hy roep die
skape op hulle name en lei hulle ook uit! Die skape gaan in, en
hulle gaan uit, en hulle kry weiding – Joh. 10:3,9.
Vers 10 sê: “... sodat hulle die lewe kan hê en dit in oorvloed.”
Deur dieselfde ingang, gaan die skape in na redding, en uit na
weiding, om gevoed te word tot die lewe in oorvloed.
Dit het ryk betekenis; die mens wat homself tevrede stel dat
hy gered is, maar nie groei in sy geestelike lewe nie, is soos ‘n
moedswillige skaap wat net in die kraal wil bly en nie besef dit
het kos nodig om te groei nie. Sonder kos en water word jy
brandmaer en dodelik siek. Dit geld ook vir jou geestelike lewe,
en geestelike groei.
Ernest