Psalm 23:1 is seker die bekendste beeld van ‘n herder in die Ou Testament:
“Die Here is my herder, ek kom niks kort nie”. Wanneer Jesus in Johannes 10
hierdie beeld gebruik sluit Hy by die Ou Testament aan, soos ook in Jes. 40:11.
Jesus sê in Johannes 10:11 en 14: “Ek is die goeie herder...”

Dit eerste kenmerk van ons herder is dat Hy ‘n goeie herder is. Hy laat nie sy
skape in die steek nie, nooit nie. Die Griekse woord wat hier gebruik word, en
met “goed” vertaal is, het wye betekenis: mooi, bruikbaar, goed, sonder foute,
waardevol, edel, prysenswaardig, vlekloos, uitstekend. Dit is alles waar van
Jesus as die goeie herder.

Die tweede kenmerk van die goeie herder: Hierdie herder ken sy skape.
Hy roep sy skape op hulle name! Twee keer sê Jesus: “Ek ken my skape”
– Joh. 10:14,27. Dit herinner ons aan Jesaja 43:1: “Ek het jou op jou naam
geroep, jy is myne.” So praat Jesus ook van “my skape” wie se name Hy ken!
Dink net aan die verskriklike woorde wat teenoor dit staan, in Matteus 25:12:
“Ek ken jou nie!”, wanneer Hy jou nie inlaat by die bruilofsfees nie. Mag dit
nooit van een van ons waar word nie... Dit sal egter nooit met jou gebeur
wat reeds aan die kudde van die Here behoort nie. Ons kan altyd met die
wete lewe: die Here het volle kennis, en begrip, van my en my omstandighede.
Die goeie herder is persoonlik by my betrokke. Die Here is waarlik my Herder,
en ek kom niks kort nie!

Die derde kenmerk van die goeie herder: Hy lei sy skape! Hy loop voor hulle
en hulle volg Hom – Joh. 10:3-4. Herders het in Palestina vóór hulle skape
geloop, en die skape volg. Die herder lei sy skape. Ons goeie herder jaag ons
nie van agter af aan nie. Ons volg, omdat ons die herder ken, vertrou en liefhet.
Jesus loop voor ons uit. Hy is ons Leidsman!

Die vierde kenmerk van die goeie herder: “Die goeie herder lê sy lewe af vir sy
skape” – verse 11, 15,17. Diewe, rowers en wolwe neem die lewe van die skape.
Jesus gee sy lewe vir die skape! Jesus lê sy lewe vrywillig af vir sy skape!
Jesus het die verskriklike kruisdood doelbewus tegemoetgegaan ter wille van
sy skape. Sy lewe is Hom nie ontneem nie. Hy het sy lewe gegee! – verse 17-18.
Dink net daaraan hoe lief die Here jou het...

Die vyfde kenmerk van die goeie herder: Hy gee die léwe aan sy skape!
In Joh. 10:10 sê Jesus: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê en dit in
oorvloed.” Ook vers 28: “Ek gee hulle die ewige lewe.”! Oorvloedige lewe,
én ewige lewe! Oorvloedige lewe beteken dit vloei oor, dit is borrelend,
sprankelend. Dit gaan oor kwaliteit lewe. Voluit lewe, vir die Here! Maar dit is
ook ewige lewe! Dit is teenwoordige tyd, Nou reeds. Nie eers eendag nie.

Die sesde kenmerk van die goeie herder: Hy bewáár sy skape vir ewig.
Joh. 10:28-29: “Hulle sal in ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle
uit my hand ruk nie... niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.”
Ons ewige behoud berus by God! Dit is vir elkeen van ons blywende troos en
sekerheid! Wat ookal gebeur... niks kan ons uit sy hand ruk nie!

Leef in en vanuit hierdie sekerhede van Wie die goeie herder ís,
en wat Hy doen!

Ernest