Jesus sê in Johannes 11:25 vir Marta: “...Ek is die opstanding
en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook...”
Hierdie uitspraak van Jesus vra van ons om te onthou dat alle
mense sterwe, en dat alle mense ook met Jesus se wederkoms
uit die dood sal opstaan. Maar die opstanding is nie vir alle
mense dieselfde nie. Jesus stel dit duidelik in Johannes 5:28-29.
Daar is ‘n opstanding tot die lewe, en ‘n opstanding tot veroordeling.
Eersgenoemde is die opstanding van die gelowiges in Christus,
en laasgenoemde die van die ongelowiges.

Elke mens wat in Christus sterwe, elke geredde mens, het die
opstanding tot die lewe. Elke gelowige besit reeds die opstanding
omdat jy aan Jesus verbind is. Dit is ‘n feit, ‘n werklikheid. Jesus ís
die opstanding! Die opstanding tot die lewe is onlaasmaaklik aan
Hom verbind. Sonder Jesus kan daar nie ‘n opstanding tot die lewe
wees nie, want Jesus ís dit!

Die opstanding van die gelowiges geskied nie net eendag nie.
Dit geskied elke dag! Jesus is nou reeds vir elke gelowige die
opstanding! Elke dag! Jy kan nou reeds elke dag triomferend lewe,
en meer as ‘n oorwinnaar wees. Rede? Omdat Jesus, jou Verlosser,
die opstanding uit die dood vir jou is! Jy kan voortdurend die krag
van Jesus se opstanding ondervind en elke dag daaruit leef!

Net soos Jesus se sterwe, was Jesus se opstanding ook ‘n
bewuste daad. Die Bybel sê dat God Hom opgewek het in Rom. 4:24,
én óók dat Jesus self opgestaan het, in Johannes 2:19 en21, en ook
Johannes 10:17-18.

Jesus se opstanding raak elke gelowige direk. Paulus skryf in Ef. 2:6:
“Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood.”
Dit is ‘n baie belangrike waarheid! Waar Jesus is, is ons ook! Ons word
saam met Hom gekruisig, begrawe, en saam met Hom uit die dood
opgewek. Nou reeds! Paulus bid dat die Efesiërs sal begryp hoe geweldig
groot die krag van God is “wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde
kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit
die dood opgewek het” – Ef. 1:19-20.

Ondervind hierdie krag van God elke dag in jou lewe, en gaan leef daaruit!
Jesus is die opstanding, en jy is een met Hom!

Ernest