Johannes 11:25-26: “Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding
en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen
wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.
Glo jy dit?”

Wat beteken dit om werklik te lewe? Ware lewe, volgens die Bybel,
word met Christus verbind. Buite Christus om bestaan ons wel, en
kan ons biologies lewe, soos diere ook lewe, maar ons besit nie die
ware lewe nie. Die vraag is: Bestaan jy, of léwe jy? Wanneer Jesus
sê dat Hý die lewe is, verwys Hy na ons huidige lewe op aarde,
sowel as na die lewe in die hiernamaals!

Wat ons huidige lewe op aarde betref, wys Christus se aanspraak
op ons kwaliteit van lewe. Johannes 3:36: “Wie die Seun het, het
die lewe.” Johannes 10:10 sê dan ook ons het hierdie lewe in
oorvloed. Jy ontvang dit as jy ‘n tweede keer gebore word,
wedergeboorte. Hierdie lewe kan op geen manier buite Christus
om gekry word nie. 1 Johannes 5:11: “God het ons die ewige lewe
gegee, en dié lewe is deur sy Seun.”

Paulus sê: “... om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe is
vir my wins.” – Fil. 1:21. Die woorde “is vir my”, dra hier besondere
klem. Dit is asof Paulus wil sê: Vir ander mense mag om te lewe baie
ander dinge beteken, maar “vir mý”, is om te lewe Christus! Dit is ‘n
persoonlike belydenis en ervaring, en nie net ‘n mooi lewensideaal
nie! Jesus moet in ons kom woon en sy lewe deur ons lewe!
Dit is nie meer ek wat lewe nie, maar Christus in my!

Om werklik te lewe, word nie deur jou uiterlike lewensomstandighede
bepaal nie. Lewensvervulling, deur Christus in jou, bepaal of jy werklik
léwe. As jy saam met Christus op God se pad is, lewe jy, ondanks jou
omstandighede. Besef dit, en lééf, in Christus!

Wanneer Jesus sê “Ek is die lewe”, beteken ook ewige lewe. Dit begin
met wedergeboorte, duur voort oor die dood, wederkoms, én daarna,
tot in ewigheid. Lewe in Christus het geen onderbreking en geen einde
nie. 1 Johannes 5:11-12: “God het ons die ewige lewe gegee, en dié
lewe is deur sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun
van God het nie, het ook nie die lewe nie.” Jesus is die lewe, en die
ewige lewe. Wat ‘n wonderlike vooruitsig is dit nie! Geen wonder nie,
dat die Heilige Gees en die bruid, die gelowiges, gedurig bid tot die
hemelse Bruidegom dat Hy moet kom! – Openbaring 22:17 en 20.

Die heerlikheid van ‘n lewe, waar Christus jou léwe is, loop uit op ‘n
nog groter heerlikheid! Dit is wanneer ons by sy wederkoms “in sy
heerlikheid sal deel”! – Kol. 3:4. Só werklik is dit dat Johannes kan sê:
“Ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees” – 1 Joh. 3:2.
Dit is waarheen ons op pad is, ... wanneer Jesus ons léwe is!

Ernest