Johannes 14:6: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.
Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”
Die waarheid dra jou deur alles heen. Dit gee jou sekerheid.
Wanneer Christus sê “Ek is die waarheid”, dan sê Hy daarmee Hy is
die absoluut betroubare Een. Die Nuwe Testament verbind waarheid
onlosmaaklik aan Christus.
Johannes skryf Jesus is vol waarheid, die waarheid self. Kyk net wat skryf
hy alles daaroor: Die waarheid het deur Jesus gekom; hulle wat aan Jesus
se woorde getrou bly, sal die waarheid ken; die waarheid sal hulle vry maak;
Jesus is gebore en het in die wêreld gekom met die doel om oor die waarheid
getuienis af te lê; elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na Hom –
Joh. 1:14, 17. 8:32. 18:3,7.
Die toppunt van Jesus se verbinding met die waarheid is dat Jesus die stelling
maak dat Hý die waarheid ís! Jesus ís die waarheid! Hy is nie net vol waarheid nie,
en Hy bring nie net waarheid nie, en Hy verkondig ook nie net die waarheid nie,
maar, Hy ís die waarheid! Elkeen wat Jesus Christus gevind het, het die waarheid
gevind. Elkeen wat Jesus nie gevind het nie, bou op ‘n fondament wat sal
verkrummel.
Filosowe is in ‘n moeisame soektog na die waarheid. Maar: Die waarheid, Christus,
soek na jou! Omhels Christus en jy omhels die waarheid. Johannes 1:14 beklemtoon
dit: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid
gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en
waarheid.”
Die Woord van God beklemtoon dat “waarheid” ook geld van die Vader
en die Gees. Wat van Christus gesê word, dat Hy “vol waarheid” is, is ook
waar van die Vader en die Gees. Lees gerus Eks. 34:6, Deut. 7:9, Ps. 31:6.
As God se kinders na Hom opkyk, weet hulle: Ons Vader is die waarheid.
Waarheid word ook met die Heilige Gees verbind. Hy word die “Gees van die
waarheid” genoem in Joh. 15:26. In 1 Johannes 5:6 word van die Gees
dieselfde gesê as van Jesus Christus: “...die Gees ís die waarheid...”
Dat Jesus die waarheid ís, het belangrike implikasies vir ons lewe.
Ons is beelddraers van Christus. Waarheid moet een van die kenmerke van ons
lewe wees. Om in verbondenheid met Christus te leef, moet ons in waarheid leef.
Ons kan nie met Christus in gemeenskap lewe as ons nie opreg is en eerlik is nie.
Paulus sê in Rom. 9:1: “In my verbondenheid met Christus praat ek die waarheid.”
Jesus sê ook aan die Samaritaanse vrou: “dat die Vader mense soek wat Hom
“deur die Gees en in waarheid” aanbid.
Om in alle opsigte te groei na Christus toe, is dit nodig om
“in liefde by die waarheid te bly.” – Ef. 4:15.
Leef in die waarheid, in Jesus, en leef die waarheid!
Ernest