Jesus sê vir sy dissipels dat Hy weggaan, en sê dat hulle die pad ken
waarheen Hy gaan. Hy praat van die hemel. Tomas sê dan: “Here,
ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen
ken?” Jesus antwoord dan: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.
Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” – Johannes 14:6.
Jesus se antwoord beteken eenvoudig: Ek, Ek is die pad!
Niemand kom na die Vader behalwe deur Jesus nie!
Die pad na die hemel is nie ‘n lewensbeskouing, of sisteem, ‘n ideologie,
of ‘n leer of ‘n belydenis nie. Selfs nie eers die Bybel nie! Jy kan op al
hierdie “paaie” loop sonder dat jy op die enigste pad na die hemel is.
Die gevaar is dat ons vir ons saligheid op ander dinge vertrou, behalwe
op Jesus Christus alléén! ‘n Vroom lewe en godsdienstige handelinge
en gewoontes is alles mooi dinge, maar dit is nie jou redding nie.
Filippense 3:8-9 stel dit duidelik: “... ek beskou alles as waardeloos,
want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde...
Ter wille van Hom het ek alles prysgegee... sodat ek Christus as enigste
bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek
die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo.
Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo.”
Slegs Jesus Christus lei jou na die Vader. Jesus stel dit duidelik:
“Niemand kom na die Vader, behalwe deur My nie.” Jesus is nie
een van moontlike paaie nie. Hy is die enigste weg! Lees ook Hand. 4:12
en 1 Timoteus 2:5. Ons kan nié “die berg van verskillende kante af klim
na dieselfde God toe nie”! Dit is dwaling! Christus is die enigste pad!
Moet jou nie laat mislei nie! Loop die pad in Christus, die enigste pad.
Hy is die weg en die waarheid en die lewe! Dit help nie ons weet dit
net nie. Ons moet ín Christus die pad lóóp! Dit is ‘n eenrigting pad.
Jesus sê baie belangrike woorde in Johannes 5:39-40: “Julle ondersoek
die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is
juis die Skrif wat oor My getuig. Tog wil julle nie na My toe kom sodat
julle die lewe kan kry nie.” Lees dit weer...
Jesus is die pad! Die weg! Hierdie pad dra die swaarste vrag!
Dit maak nie saak hoe swaar die vrag van jou lewe is nie, verdriet,
eensaamheid, siekte, bekommernis, skuld... wat ookal, hierdie pad dra
jou altyd na die Vader! Hebreërs 10:20 sê dat Christus deur sy kruis
‘n nuwe pad, wat na die lewe lei, vir ons oopgemaak het.
Hy self is daardie pad! Loop op die enigste pad!
Ernest