In Johannes 15:1 sê Christus: “Ek is die ware wingerdstok... ”
Om regtig hierdie beeld mooi te verstaan moet ons die hele
Johannes 15:1-17 aandagtig deurlees. Doen dit meer as een keer. Oordink dit goed.
Die wingerdstok en sy lote is een. Dit kan nie van mekaar geskei word nie. Christus
sien die wingerdstok saam met sy lote. Dink aan jouself as een van die lote!
Die basiese vereiste wat Jesus stel is: “Julle moet in My bly en Ek in julle.” – vers 4.
Tussen Christus en sy volgelinge moet daar lewensverbondenheid wees. Dit is die
kern van hierdie boodskap: Julle ín My, en Ek ín julle. Christus sê dit vyf keer, só
belangrik is dit. As ek die werklikheid van “Christus in my” nie beleef nie, moet ek
ondersoek instel oor “my in Christus” wees! Dit kan nie net van een kant kom nie!

Die Vader is die “boer”. Die Vader kyk noulettend na elke loot van hierdie wingerdstok
om te sien of dit vrugte dra of nie. Dit is waaroor dit aan! Dit is waarvoor die wingerd
geplant word! Dra jy vrug? Die Vader doen twee dinge: Elke loot wat nie vrugte dra nie,
sny Hy af. En elke loot wat wel vrug dra , snoei Hy reg sodat dit meer vrug kan dra!
Weereens: Dra jy vrug? Wat afgesny word, word weggegooi, en uiteindelik verbrand...
Dit is “gelowiges” wat wel voorgee dat hulle glo, maar tog glo hulle nie regtig nie.
Omdat hulle nie werklik in Christus is nie, kan hulle ook nie vrug dra nie. Die vraag is
dus aan ons: Is jy seker dat jy wel deur persoonlike geloof in Christus deel van die
wingerdstok is?

Die opdrag om uit te gaan en vrug te dra wat hou, kom na elke gelowige.
Die Here wil jou getuienis en die voorbeeld van jou lewe gebruik om ander na hom
te lei. As jy so leef dra jy vrug wat vir ewig hou. Gelowiges wat in Christus, die ware
wingerdstok bly, is ook ware bidders – Joh. 15:7. Die intieme verhouding tussen
wingerdstok en loot, wat één is, is sowel die dryfkrag tot gebed as die voorwaarde
vir ‘n vrugbare gebedslewe. Die beeld van ons in Christus, en Hy in ons, spreek van
‘n intieme verhouding en innige gebedslewe. Jesus onderstreep dat die loot nie
“anders” bid as wat die wingerdstok sou bid nie. Gebed geskied in sy Naam!
Dit beteken om niks te vra wat Christus nie sou vra nie. As Jesus in jou bly, en jy in
Hom, leer jy om te dink soos Hy, om dinge te sien soos Hy, om te begeer wat Hy
begeer, en daarvoor te bid. Die Woord van God leer jou hoe om te bid!
Jesus leer jou hoe om te bid! Dan bid jy in sy Naam!

As die lote in Christus, die ware wingerdstok, bly, beteken dit ook dat Christus
se blydskap in die lote bly, en dat die lote se blydskap volkome is! Joh. 15:1, 4, 11.
Christus maak sy volgelinge mense wat oorloop van blydskap. Die blydskap in
Christus neem ook voortdurend toe! Dit is ook die vreugde in die vrug van die
Gees – Gal. 5:22. Hierdie blydskap is ‘n kenmerk van Christen-wees. Die geheim
van blydskap word dus verklaar deur hierdie beeld van Christus:
Hy is die wingerdstok, en ons is die lote. Hy bly in ons, en ons in Hom.

Hierdie beeld van Christus, dat Hy die wingerdstok is en ons die lote,
raak die kern van ons geestelike lewe. Baie dinge word hieroor in Joh. 15 gesê:
Ons moet vrug dra; ons moet bid; ons moet in Christus se liefde bly; ons moet
vol blydskap wees; ons moet soos vriende van Christus lewe; ons moet gestuurdes
van Christus wees; ons moet Christus se woorde in ons hê...
Kan ons dit alles?! Onthou, moenie vergeet nie: Al hierdie dinge word deur die
wingerdstok aan jou, die loot, gegee! Daarom is vers 5 só belangrik:
“Sonder My kan julle niks doen nie”. Amen!

Ernest