In Matteus 5:3-11 lees ons van die “geseëndes”.
Wie is hierdie mense na wie Jesus verwys, en wat “geseënd” is?
Wie is hierdie afhanklikes, sagmoediges, hongeres, dorstiges,
barmhartiges, reines van hart, vredemakers en vervolgdes?
Wie ís hulle? Is dit verskillende groepe of soorte mense?

Christus praat nié hier van verskillende groepe mense wat hulle
in hierdie kategorieë bevind nie. Hy praat van jóú! Hy is besig om
jóú te leer hoe jý moet wees as gelowige in Christus! Elkeen van
die genoemdes, is jý! Die hele Matteus 5:3-11 is hoe jý moet lyk!

As jy so lyk, as jy so is, sê Christus aan jou: Jy is geseënd!
Die een groot onderwerp waaroor dit in hierdie gedeelte gaan is
die vraag: watter eienskappe moet die volgeling van Christus
in Hom hê en uitleef? Waaraan kan ‘n volgeling van die Here
Jesus Christus geken word, en ook uitgeken word tussen mense?
Dit is wat Christus hier duidelik maak.

Hierdie is deel van die karaktereienskappe van ‘n gelowige,
in Christus. Christus praat nie hier van agt verskillende soorte,
of groepe mense nie! Hy praat net van een groep: Ons wat in
Jesus Christus glo as persoonlike Verlosser en Here!

Hierdie mense wat hier ter sprake is, is verskillende beelde en
realiteite van die lewe waarmee Christus die gelowige, in Hom,
teken. Dit is tog duidelik: Almal wat treur is nie geseënd nie.
Net so min as wat almal wat bly is, en nie treur nie, sonder
seën is. Nee, Christus praat van ‘n sekere soort droefheid,
of honger, of afhanklikheid... wat by elke gelowige gevind
moet word! Die agt saligsprekinge sê dus:
So moet jy wees as volgeling van Christus.
Dan is jy geseënd!

Ernest