“ Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is…”
– Matteus 5:3.

Die Here Jesus sê hier jy moet in elke opsig volkome van God
afhanklik wees. Dan is jy werklik geseënd. Die Griekse woord is
in die 1933 vertaling vertaal met “arm”. Dit dui op mense wat so
arm is dat hulle absoluut niks het nie. Hulle kan alleen aan die lewe
bly as hulle by ander ontvang om te leef. Dit is die mense wat met
uitgestrekte hande smeek om ontferming en ondersteuning.
As hulle dit nie kry nie, sterf hulle...

So moet jy besef dat jy voor God absoluut niks het nie. Jy kan
alleen lewe, elke dag, met uitgestrekte hande na God toe. Jy kan
alleen uit God se genade lewe. As God by jou verbystap en jou nie
“raaksien” nie, het jy geen hoop nie. Jy is absoluut afhanklik van
Hom en steek jou hand uit na Hom, vir alles.

Wanneer ons elke dag van ons lewe wéét hoe afhanklik ons van
God is, is ons geseënd! Nog nooit het God by ‘n hand, wat in
afhanklikheid na Hom uitgestrek is, verbygestap nie. Ons het nie
‘n idee hoe afhanklik ons van God is nie, selfs net vir elke asemteug.
By die hovaardiges, die selfvoldanes, en die selfhelp soort,
staan God nie stil nie. Hulle dink hulle kan sonder God klaarkom.

Voor God is ons arm. Jy is ‘n bedelaar in gees. Dan is jy geseënd,
en dit is nie net jy wat jou hand na God uitsteek nie,
maar Hy steek sy hand ook na jou toe uit.

Ernest