Die mense wat weet hoe afhanklik hulle van God is,
ontvang die grootste skat denkbaar van God. Christus sê:
“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is,
want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” – Matt. 5:3.

Die koninkryk van God en die koninkryk van die hemel is dieselfde.
Die koninkryk van God is daar waar God regeer, as koning, daar waar
sy Heer-skappy erken word, waar Hy werklik as Here heers!

Iemand wat hom aan God se heerskappy onderwerp, word in sy
ganse lewe deur God regeer. Jy gee jou hele lewe doelbewus oor
aan God, in gedagtes, woorde en dade. Jy erken jou algehele
afhanklikheid van God. Jy leef ook só. Jy hou op om op jou eie
vermoë staat te maak. Die Here neem oor en die Here regeer
jou lewe. In alles wat jy leef, leef jy dit vir Hom.

Die Here Jesus sê nou nog iets baie belangrik:
Hy sê dat die koninkryk aan só ‘n persoon behoort! Dit is nie net
die koninkryk wat jou besit nie. Jy besit dan ook die koninkryk.
Jy wat bedel-arm voor God leef, en weet hoe totaal afhanklik jy
van God is, besit ‘n koninkryk! Die koninkryk van God! Jy het dus
deel aan alles wat die koninkryk van God bied! Jy ontvang daagliks
alles uit die hand van die Koning van die koninkryk. Jy ontvang die
groot en ryk gawes wat Hy aan sy volgelinge gee – verlossing, vrede,
vreugde, krag, lig, oorwinning oor die duisternis en die bose...

Ten diepste beteken dit Christus leef in jou en jy leef in Hom.
Jy leef met al sy gawes. Christus besit jou en jy deel in alles wat Hy
aan jou skenk. Daarom is jy ontsettend ryk. Jy het die ware lewe,
ewige lewe. Dit alles omdat jy diep afhanklik uit God se genade leef.
Jy is geseënd want die koninkryk van die hemel behoort ook aan jou!
Gaan leef nou doelbewus uit hierdie rykdom. Jy is ryker as skatryk!

Ernest