Christus maak die belofte: As jy treur oor dié dinge waaroor
jy móét treur, sal jy vertroos word – Matteus 5:4. Die Griekse
begrip wat hier met “vertroos” vertaal word, is ‘n woord met
baie betekenis moontlikhede. Letterlik beteken dit om iemand
na jou te roep, om langs jou te kom staan.
Hieruit het ‘n verskeidenheid van betekenisse ontwikkel:
Om te help, te bemoedig, om jou saak vir jou te bepleit, om te
dien, om te troos. Elkeen van hierdie betekenisse is eintlik
ingesluit is Christus se woorde, sy belofte, dat hulle wat treur,
vertroos sal word.

Wanneer die Bybel van troos praat, kan ons dit nie losmaak van
die Persoon wat die Trooster genoem word nie. Die Heilige Gees.
Dit is die Heilige Gees wat al die dinge wil doen vir dié wat treur,
soos in bogenoemde begrippe genoem. Die wonderlike is dat die
Heilige Gees dit deurlopend doen. Hy woon in ons en lei en troos
ons! Ons leef as kinders van die Here eintlik altyd in ‘n staat van
“getroos wees”, bemoedig wees”, of “gehelp wees”, wanneer
ons treur oor dit wat God laat treur. Ons sonde en gebrek aan
toewyding.

Ons moet nie die Heilige Gees se troos losmaak van Christus
en sy gawes nie. Die Heilige Gees het gekom om Christus te
verheerlik, en die Gees doen dit deur Christus se gawes aan
ons mee te deel – Johannes 16:12-15. Die Heilige Gees bring
vir Christus na ons toe, in ons droefheid – Johannes 16:6-7.
Droefheid oor sonde en ons gebrekkige geestelike toewyding,
is ‘n droefheid sonder troos, as dit nie vir die Heilige Gees is
nie! Wanneer ons bedroef is “soos God dit wil hê”, oor die
dinge wat God bedroef, dan dryf daardie droefheid ons na
Christus toe, deur die werk van die Gees.
Dan bring dit redding en vergifnis.

Ernest