“’n Mens se lewe is soos ‘n vrugteboom:
Goeie vrugtebome dra goeie vrugte en slegte bome dra slegte vrugte.
Hulle lewens wys watter soort vrugte hulle dra.” Matteus 7:17 en 19.

‘n Klompie jare terug het die musiekgroep “Milli Vanilli” ‘n Grammy toekenning gekry.
Dit was vir hulle album “Girl You Know It’s True”.
Hulle het 7 miljoen eksemplare daarvan verkoop!
Later het Milli Vanilli erken dat hulle nie een noot daarop self gesing het nie.
Hulle het gemaak of hulle sing.
Dit was ‘n groot skandaal in die musiekbedryf en ‘n verleentheid vir die Grammy’s.
Almal is mislei, al het dit hoe goed geklink.

Daar is ook sulke Christene.
Alles klink en lyk so goed.
Mense wat die Christelike geloof namaak.
Mense wat sê hulle is Christene, maar weinig daarvan leef.
Hulle dink Christenwees is ‘n geloof sonder waardes.
Dit hoef niks aan jou lewe te verander nie.
Hulle lewensbome dra nie die vrug van bekering nie.
Hiermee mislei hulle so baie mense.

Henry Ward Beecher het oor hierdie tipe misleiding gesê:
“Whatever is only almost true,
is quite false and among the most dangerous of errors,
because being so near truth, it is the more likely to lead astray.”

Ondersoek jouself en maak seker dat jy die ware lewe vir God lewe.
Dra die ware vrug van bekering.
Moenie met jou lewe mense mislei nie.
Jy mislei in die eerste plek dan jouself.
Jou lewe wys watter vrug jy dra.

Ernest