“Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal
die nuwe aarde ontvang. – Matteus 5:5.
Ons leef in ‘n harde wêreld. Moord, geweld, selfhandhawing,
oorlog, verdrukking. Christus wys in sy berg-preek op die
“sagte kragte”, waarin die groot krag juis lê, want dit is God
se krag wat daardeur werk: sagmoedigheid, barmhartigheid,
vrede, vriendelikheid, liefde, goedhartigheid. In ons wêreld
is dit moeilik om met sagte krag te reageer op die harde
wêreld... of ís dit?

Een so ‘n sagte krag waaroor Jesus hier praat, is sagmoedigheid.
In Grieks word die woord sagmoedigheid gebruik vir ‘n wilde dier
wat mak gemaak is, soos ‘n wilde perd. Die wilde perd is nié nou
swak omdat dit mak gemaak is, getem is, en reageer op die ruiter
se opdragte nie. Agter daardie “sagmoedigheid” lê groot reserwe
krag! Krag onder kontrole. By mense, krag onder beheer van die
Gees!

Sagmoedigheid is nooit ruggraatloosheid of swakheid nie.
Dit is juis die sterkes wat waarlik sagmoedig kan wees. Wie nie
sterk is nie, probeer juis dikwels homself handhaaf deur die
“harde kragte” van die lewe. Die sagmoedige het juis beheer!
Die sagmoedige gaan rustig voort onder beheer van die Gees.
Sagmoedigheid is inderdaad groot krag onder kontrole.
Die kontrole word nie deur sagmoedigheid self uitgeoefen nie.
Jy is onder kontrole, sagmoedigheid is onder kontrole, omdat jy
jouself onder die kontrole van dié Een geplaas het wat jou léér
wat sagmoedigheid is: “Leer van My want Ek is sagmoedig”
– Matteus 11:29.

Die sagmoedigheid waarvan Christus hier praat, is nie ‘n
natuurlike eienskap uit onsself nie. Dit moet by Christus “geleer”
word! Die enigste manier om dit te leer, is wanneer Christus
toegelaat word om my lewe in besit te neem, en my te leer.
Wanneer ek die Heilige Gees toelaat om my te beheer.
Wanneer ek leef deur die Gees. Dan word ek sagmoedig,
soos Christus sagmoedig was, ... en dan is ek geseënd.

Ernest