“Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal
die nuwe aarde ontvang.” – Matteus 5:5
Mense gee vir, en ontvang van mekaar, enorme groot geskenke.
Ons lees dikwels daarvan in die openbare media. Die rykstes van
die rykes spog doelbewus met hulle geskenke aan ander. Maar,
nog nooit kon een persoon, of sal een persoon, die “aarde” aan
iemand kan gee nie!
Christus belowe dit aan die sagmoediges! Hulle ontvang nog
meer as die aarde, hulle ontvang die nuwe aarde!
Ongelowiges sal hieroor lag. Maar, dit is wat Christus sê,
en óns glo dit!
Christus belowe nie wat Hy nie kan gee nie. Die nuwe aarde
behoort, soos hierdie aarde, aan God! In God se testament
staan onveranderlik geskryf: Die sagmoediges sal die nuwe
aarde as erfenis ontvang!
Hoe verstaan ons dit? Let op die woorde: Nuwe aarde.
Dit is die nuwe aarde wat tot stand gaan kom met Jesus Christus
se wederkoms. Dan word die harde mense, wat dink dat hulle
die aarde besit, van die aarde af weggevee. Juis weggevee van
die aarde af wat hulle dink hulle besit... dan kom die nuwe aarde
tot stand waarvan Openbaring 21:1 praat. Hierdie nuwe aarde
sal slegs deur gelowiges bewoon word, die sagmoediges.
Nog meer: Dit is hulle wat die nuwe aarde regeer – Openb. 5:10
en 22:5. Hulle sal saam met Christus regeer !
2 Timoteus 2:11-12 sê: “Dit is ‘n betroubare woord: As ons saam
met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom lewe; as ons in
geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer;...”
So sal die nuwe aarde werklik ook aan ons behoort.
Ons erf dit by God! Die Griekse betekenis van die woord is dat
ons die nuwe aarde as erfenis sal ontvang. Daar is dus geen
sprake van verdien nie. Dit is ‘n genade-geskenk van God, en
daarom is ons só geseënd! Geen mag in die wêreld kan ons van
die geskenk ontneem nie. Wat in ‘n testament geskrywe is, kan
nie verander word nie, tensy die testamentmaker dit self doen.
Ons Testamentmaker, God self, sal nie verander nie en is trou
in Homself. Ons erf die nuwe aarde!
Ons is só geseënd, in sagmoedigheid!
Ernest