“Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is,
want hulle sal versadig word.” – Matteus 5:6.
Wanneer jy ontsettend honger en dors is, is kos en water
al wat jou gedagtes oorheers. Jou instink neem as’t ware oor.
Dit is allesoorheersend. Dit voel of jy gaan sterf van die dors.
Min van ons was al by so ‘n punt. Ons leef met kos en water
by ons. Maar praat met mense wat ‘n woestyn-belewenis van
dors en honger gehad het, en jy besef iets van ware honger
en dors.

Net so sterk as wat die honger en dors na kos en water kan raak,
net so sterk moet ons begeerte wees na wat rég is! Dit moet so
sterk wees soos die oorlewingsdrang in ware honger en dors!
Dit moet by ons ‘n allesoorheersende drang en passie wees.

Wat beteken dit? As die Bybel praat van geregtigheid by mense,
sê dit twee dinge: Daar is ‘n geregtigheid wat die mens nié kan
doen nie, en daar is ‘n geregtigheid wat die mens móét doen.
Ons kan nie die geregtigheid doen waar ons onsself voor God
regverdig nie, regverdig maak nie. Ons moet deur God regverdig
gemaak word, regverdig verklaar word deur Hom, in Christus.
Dit gebeur wanneer ons in Christus glo as Verlosser en Here.
Dan word Christus se volkome geregtigheid aan ons toegereken.
Dan is jy ‘n regverdige in God se oë.

Maar dit eindig nie daar nie. Die regverdige moet nou voortaan
rég doen. Ons kan nie terugsit in ons regverdigheid nie. Juis omdat
ons regverdig gemaak is en regverdig verklaar is deur God, moet
ons nou uit dankbaarheid honger en dors na wat rég is, en dit doen!
Ons moet self geregtigheid doen, deur te doen wat rég is, in God se
oë. Ons moet ook sórg dat geregtigheid gedoen word! Dit is nou
ons roeping! Ons honger en dors daarna. Ons moet daarop ingestel
wees om die onreg teenoor God en ons medemens rég te maak.
Ons moet dit elke dag met groot entoesiasme en blydskap,
en dankbaarheid doen.

Hoekom? Omdat God dit van ons as regverdiges, wat Hý regverdig
gemaak het, verwag! Soos ons in honger en dors smag na kos en
water, moet ons smag na wat reg is vir God en voor God. Ons smag
om voor God reg te lewe, en vir God teenoor alle mense reg te doen.
Dan sê Christus van ons:
“Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is...”

Ernest