“Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is,
want hulle sal versadig word.” – Matteus 5:6.
Kan jy jou indink wat dit vir iemand sal beteken wat wil sterf
van dors en honger, letterlik wil sterf, as hy skielik genoeg water
en kos het. Kan jy jou ook indink wat dit vir mense sal beteken
om skielik, vir die res van hulle lewe, genoeg kos en water te hê,
as hulle elke dag honger en dors gaan slaap en honger en dors
opstaan. Ons kan ons eintlik nie dit indink nie. Dink net aan die
vreugde en dankbaarheid wat hierdie mense sal hê as hulle
skielik vir die res van hulle lewe genoeg kos en water het!
Christus maak ‘n belofte van versadiging! Hy sê dié wat honger
en dors na wat reg is, sal versadig word. Min dinge bring groter
bevrediging as wanneer jy weet jy doen wat reg is wanneer daar
onreg is, wanneer dinge verkeerd loop. Veral as jy weet dit is wat
God van jou verwag. Christus spreek sy seën uit oor jou as jy
honger en dors na wat reg is, en doen wat reg is. Ook wanneer
jy geregtigheid bevorder. Al kry jy nie die onreg wat jy bestry
rég nie, sal die feit dat jy dit aanpak goed wees in God se oë.
Dit sal ook nou reeds by jou versadiging bring.
Die rég kan op verskillende terreine lê. In jou eie hart, of ten
opsigte van jou gesin, werk, gemeenskap, land of selfs die wêreld.
Oral is daar onreg. Oral is daar sonde, en sonde is ongeregtigheid.
Ons moet ons beywer vir reg op alle terreine. Versadiging sal nie
uitbly nie. Christus belowe dit. Maar die volmaakte versadiging sal
ons eers eendag smaak as die nuwe hemel en die nuwe aarde
gekom het. Dáár sal geen onreg wees nie.
Die kenmerk van elke gelowige is dat hy honger en dors na wat
reg is. Christus het met sy lewe betaal om vir ons geregtigheid by
God te bewerk. God self het duur daarvoor betaal. Wanneer ons
honger en dors na wat rég is, is ons geseënd,
en sal ons deur God self versadig word.
Ernest