Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.” – Matteus 5:8.
‘n Kardiogram wys vir ons wat die gesondheidstoestand, medies gesproke,
van ons hart is. Die Here gebruik die “kardiogram” van sy Woord om die
geestelike toestand van ons hart te beskryf. Die mens se hart lyk regtig nie
goed nie! Matteus 15:19 sê: “Uit die hart kom slegte gedagtes: moord,
owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery”. Volgens
Matteus 5:8 is jy geseënd as dit bevind word dat jou hart rein is, want
Christus sê daar: “Geseënd is die wat rein van hart is”.

Hoe is ‘n rein hart? Hoe lyk ‘n rein hart? Dit is ‘n hart waarin daar nie
vuilheid gesetel is nie. Dit is ‘n hart wat wel eers vuil wás, maar wat nou
deur die bloed van Christus gereinig is. Maar ‘n rein hart is ook meer as dit.
Dit is ‘n hart wat nie ‘n gespletenheid het nie. Dit is nie skisofrenies nie.
Baie gelowiges leef met ‘n gesplete hart, soos ‘n gesplete persoonlikheid.
Sondae by die kerk lyk hulle heeltemal anders as Maandag by die werk.

‘n Rein hart het ‘n enkelvoudige doel. Dit het nie valsheid, of bedrog,
of dubbelhartigheid nie. Dit is eenvoudig één opregte hart! Dawid het vir
so ‘n hart gebid toe hy gevra het: “Skep vir my ‘n rein hart, o God”, en toe
bygevoeg het: “Vernuwe my gees en maak my standvastig.” – Psalm 51:12.
Hierdie standvastigheid, nuutheid en eenvoud voor die Here in jou hart,
is die kenmerk van ‘n rein hart. Daar is nie botsende strewes nie.

Om ‘n rein hart te hê, is om een ding te begeer, en een ding te doen,
en dit is om die wil van God uit te leef. Ons kan dit nie self bewerk nie.
Ons ontvang dit alleen van Christus, en in Christus.
Gaan leef met ‘n rein hart... dan sal jy geseënd wees,
en jy sal God sien!... sê Jesus!

Ernest