Christus sê in Matteus 7:8: “Geseënd is dié wat rein van hart is,
want hulle sal God sien.” Christus sê daar is mense wat God sal sien...
Die wat rein van hart is! Ons lees reeds in die Bybel van sulke mense.
Henog het vir meer as 300 jaar “naby God geleef”. Moses het “volhard
soos iemand wat die onsienlike God sien” – Heb. 11:27.

Om die onsienlike te sien klink teenstrydig, onmoontlik. Vir ‘n gelowige
is dit ook totaal onmoontlik. Maar deur die geloof ontvang die gelowige
‘n nuwe “oog” waarmee hy God “sien”, net soos Moses en Henog.
Soos hulle, “ontmoet” die gelowige vir God. Jy “sien” God in die sin
dat jy in die teenwoordigheid van God lewe. God is nie vir jou ver en
onwerklik nie. God is vir jou die grootste werklikheid in jou lewe.
Om rein van hart te lewe, is om na God gekeer te lewe. Jy wandel
met God en “sien” die onsienlike God.

Jy ontmoet en sien God in sy Woord waarin Hy Hom aan jou openbaar.
Jy sien God omdat jy jou deur Hom laat aanspreek, deur sy Woord.
Jy sien ook vir God in die mensgeworde Woord, Jesus Christus. Ook in
Christus se lewe sien ons God. Christus het God se beeld aan ons kom
wys. Wie Christus sien, sien die Vader! – Johannes 14:9: “En Jesus sê
vir hom: “Ek is al so lank by julle, en jy ken My nie, Filippus? Wie My
sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: “Wys vir ons die Vader?”
Glo Jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie?...”

So kan die met rein harte ook reeds in hierdie lewe vir God “sien”!
Maar die volkome sien van God geskied in die hienamaals. Daar sal
die wat rein van hart is God van aangesig tot aangesig sien! Ons het
die ewigheid nodig om tot in ewigheid dít te beleef. Dit is menslik
“ondenkbaar” om die grote God van aangesig tot aangesig te sien!
Hoe gelukkig is hulle wat rein van hart is, gered is, gereinig is deur
Jesus! Hulle sal God sien!

Ernest