Geseënd is die vredemakers...” – Matteus 5:9. Daar is min vrede-makers.
Daar is baie vrede-soekers, maar min vredemakers. Wat bedoel Christus
met vredemaker? Christus se vrede het ‘n besondere kwaliteit en inhoud.
Dit is totaal anders as om “vrede, vrede” te roep, en daar is geen vrede nie.
Christus het ook in Matteus ‘n ander besondere woord oor vrede gesê wat
ons help om te verstaan:
“Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op aarde te bring nie. Ek het nie
gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Ek het gekom om tweedrag
te bring...” – Matteus 10:34-35. Hierdie woorde is oënskynlik in stryd met
die woorde oor vredemakers!

Hoe moet ons dit verstaan? Die vrede wat Christus bring kan nooit van die
kruis geskei word nie. Daar het Christus vrede bewerkstellig tussen die mens
en God, en ook tussen die mense wat vrede in God gevind het! Daarom sê
Paulus dat Christus ons vrede ís! Efesiërs 2:14: “Christus is ons vrede...
Hy wat die twee, Jode en nie-Jode een gemaak het...”
Christus is die “eerste” vredemaker!

Daar kan buite Christus om geen vrede wees nie. Hulle wat deur Christus
met God versoen is, het die ware vrede gevind! Maar dit wat hulle gevind het,
moet hulle nou ook uitdra na ander. Dit is die vrede wat Christus maak!
Die vrede wat Hy bewerk.

Om vrede te probeer maak sonder dat Christus die inhoud van jou vrede is,
is futiel. Juis daarom bring hierdie vredesboodskap ook skeiding!... soos in
Matteus 10:34-35 hierbo aangedui. Skeiding tussen hulle wat Christus
aanvaar, of nie aanvaar nie. Die skeiding loop selfs deur gesinne.

Christus sê dat die vredemakers geseënd is. Hulle dra Christus oral in,
ook in alle verhoudings waarin hulle staan. Al bring dit stryd en tweedrag.
Hulle bring ware vrede. Die vrede in Christus. Nie die “vrede” van die
wêreld ter wille van die wêreld nie,
maar die vrede van God ter wille van God!

Ernest