“Geseënd is die vredemakers, want hulle sal
kinders van God genoem word” – Matteus 5:9.
Vredemakers ís geseënd, want hulle sal kinders
van God genoem word. Dit beteken nié dat vrede wat jy maak,
jou ‘n kind van God maak nie! Christus rig hierdie woorde tot
mense wat rééds kinders van God is. Hulle het reeds deur
Christus vrede met God gevind.
Hoe moet ons dan hierdie boodskap van Christus verstaan?
Die sleutel lê in die woorde “genoem word”. Die vredemakers
sal nie kinders van God gemáák word nie, maar so genóém word.
As iemand as ware vredemaker optree, sal hy daardeur bewys
lewer dat hy werklik ‘n kind van God is, en nie maar net onder
daardie naam van vredemaker leef nie. Dan sal mense sê:
“Ons glo nou dat hy ‘n kind van God is.” So sal hy dan deur
die mense ‘n kind van God genoem word.

Nie net die mense sal hom so noem nie, maar ook God.
God die Vader is die groot Vredemaker. Christus die Seun is die
Vredevors wat vrede moontlik maak deur sy versoeningsdood.
Die Heilige Gees bewerk vrede in die hart van ‘n mens, want
vrede is deel van die vrug van die Gees – Gal. 5:22-23.

Met Christus se wederkoms kom die volmaakte vervulling
van ons kindskap van God. Paulus sê: “Ons sien daarna uit dat
God bekend sal maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het
– Rom. 8:23. Op daardie dag sal dit nog duideliker blyk dat
vredemakers kinders van God genoem word!

Ernest