Matteus 10:16 sê:
“Let op, Ek stuur julle soos weerlose skape onder die wolwe in.
Wees dan skerp soos slange,
maar terselfdertyd opreg soos duiwe.”
Ons lewe soos skape in ‘n wolwewêreld.
Jesus vergelyk sy volgelinge met skape,
en hulle teenstanders is soos wolwe.
Skape is hulpelose diere.
Hulle leef te midde van vyande teen wie hulle weerloos is.
Hulle kan hulleself nie verdedig nie.
Hulle hoop op oorlewing is ‘n goeie herder.
Jesus sê hulle moet skerp wees soos slange en opreg soos duiwe.
Skerp soos slange was ‘n beeld in Jesus se tyd wat beteken om wysheid te hê.
Om die regte ding op die regte tyd, plek en manier te doen.
Duiwe is simbole van opregtheid, asook van die Heilige Gees.
Dit kan beteken: Wees opreg met die hulp van die Heilige Gees.
Om skerp en opreg te bly in ‘n moeilike wêreld moet jy jouself afvra:
Hoe sal my woorde en dade my verhouding met God en met my naaste beïnvloed?
Hoe sal dit God se eer raak?
Is dit die beste manier om dit te hanteer?
Wat is die Here se wil hierin?
Wat is regtig sy wil hierin!?
Onthou dat Jesus self ons uitstuur, en dan deur ons werk!
So moet ons dan die nuus verkondig dat God se koninkryk naby is.
Mense wat nou wolwe genoem word moet skape word,
en in die Here se kraal inkom.
Alhoewel ons blootgestel is,
het ons die Goeie Herder as ons Herder,
wat ons onder alle omstandighede beskerm teen die wolwe!
Daarom kan jy inderdaad, afhanklik van die Herder,
tussen die wolwe gaan leef, en absoluut oorleef!
Waarlik leef!
Ernest