“Geseënd is die wat vervolg word omdat
hulle doen wat reg is...”- Matteus 5:10.
Dit klink baie eienaardig. Vervolg... en tóg geseënd?
Ons sal dink dat iemand wat vervolg word juis nié seën sal beleef nie.
Daar is egter nie van enige soort vervolging sprake as jy mense sleg
behandel, en hulle behandel jou terug sleg nie. Dan moet jy nie
verbaas wees nie. Dan kan jy nie jouself bejammer en dink jy word
“vervolg” nie. Jy kry heel moontlik net wat jy verdien...
Dan kan jy ook nie dink jy is ‘n geseënde omdat jy vervolg word nie.

Christus praat hier duidelik van vervolging om ‘n baie bepaalde rede.
In vers 10 noem Christus die rede, en in vers 11 brei Hy daarop uit.
Geseënd is die wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is!
As jy daarom vervolg word, is jy ‘n geseënde mens... omdat jy doen
wat reg is! Dit sluit aan by wat Christus reeds in vers 6 gesê het:
“Geseënd is die wat honger en dors na wat reg is...”

Die gelowige moet hom daarvoor beywer dat geregtigheid geskied.
Dit sal hom in botsing bring met mense wat onreg pleeg. Mense sal
hom beskuldig dat hy te nougeset en eerlik is. Hy word eenkant toe
geskuif en ervaar vervolging.
As iemand ‘n fyn aanvoeling het vir wat reg is, en hy beywer hom
daarvoor, en doen dit, al wórd hy vervolg, is hy geseënd.

Ernest