Die mense wat reg doen, en dan daarom vervolg word,
en deur Christus geseëndes genoem word,
is nie vanselfsprekend die humaniste en kampvegters
vir menseregte nie. Die “reg doen” waarvan Christus praat,
is ten nouste aan Christus self verbind.
Dit is die rég wat jy doen omdat jy ‘n volgeling van Christus
is. Daarom sê Christus:
“Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My
beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê.”
– Matteus 5:11.

Die vervolging van gelowiges wat “rég doen”, is dus ‘n
vervolging om Christus ontwil. Die onreg of haat is eintlik
dan op Christus gerig. Daarom fokus hulle op die volgelinge
van Christus wat namens Hom reg doen.

Wanneer dit so is met jou, dan is jy geseënd.
Wanneer mense jou haat en vervolg omdat hulle eintlik
Christus nie kan verdra nie, dan is jy geseënd.
“Wees bly en verheug”, sê Christus aan mense wat ter
wille van Hom vervolg word. Hulle kan vreugdevol wees
omdat veral twee dinge aan hulle toegesê word:
Die koninkryk van God behoort aan hulle,
en hulle loon in die hemel sal groot wees.
Vers 10 sê: “Geseënd is die wat vervolg word omdat hulle
doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk
van die hemel.”

Ernest