Die geseënd-verklarings van Christus eindig op
dieselfde wyse waarop dit in Matteus 5:3 begin het:
“... want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”
In Matteus 5:10 eindig die seën-verklaring ook so:
“Geseënd is die wat vervolg word omdat hulle doen
wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van
die hemel.” Dit toon dat die hele saligspreking-gedeelte
gaan om die eienskappe van die burgers van die koninkryk
van die hemel. Die koninkryk van God.

Behalwe die toesegging van die koninkryk van God aan
diegene wat ter wille van Christus, en dit wat rég is,
vervolg word, voeg Christus ook nog verder by:
“Want julle loon is groot in die hemel” – Matteus 5:12.
Onder loon word nie een of ander vorm van vergoeding
verstaan nie. Niemand gaan die hemel binne op grond
van wat jý gedoen het nie. Hierdie loon is genadeloon!
Dit is wat God aan ons gee uit sy guns en genade,
en nie omdat dit aan ons verskuldig is nie.

Maar Hy verbind Hom tóg ook aan diegene wat vervolg
is omdat hulle gedoen het wat reg is, en daarom beledig
en vervolg en valslik beskuldig is ter wille van Christus.
Hy gee aan hulle groot loon in die hemel. So sê Christus:
“Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek,
vir Hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor My Vader
wat in die hemel is” – Matteus 10:32.

Dink net mooi daaraan: Christus spreek Hom openlik uit
vir my! Dit maak die hemel met al sy heerlikheid oop,
vir my! Inderdaad:
‘n Groot loon wag op elkeen wat nie bang is om hier op
aarde standpunt in te neem nie, vir wat rég is,
ter wille van Christus.

Ernest