Op die vooraand van die verlossingswerk deur Christus,
word Christus bekend gestel as Immanuel. Hierdie Naam dui
op God se liefde en genade. Dit vul ons met dankbaarheid en
nederigheid. God het nou in ‘n besondere sin deur die geboorte
van Christus by ons gekom. Dit was die naaste wat God aan ons
kom toe Hy sy Seun gestuur het om by ons te kom woon – Joh. 1:14.
Hy kom om aan mense gelyk te word. Filippense 2:7 sê “... Hy het
Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en
aan mense gelyk te word.” Romeine 8:3 stel dit wat God doen só:
“...Hy het die sonde binne die sondige bestaan van die mens
veroordeel deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige
mens te stuur as ‘n offer vir die sonde.”
Die groot en geweldige God het deur sy Seun Jesus Christus naby
aan ons gekom! God is bý ons! Immanuel. Jesus sluit hierby aan
met sy “Ek is” uitsprake. Dit beteken letterlik in die Grieks:
“Ek, Ek is...”
Jesus het hierdie woorde die eerste keer gebruik toe Hy met die
Samaritaanse vrou by die put in Sigar gesels het. Aan die einde van
hulle gesprek het die vrou vir Jesus gesê sy weet dat wanneer die
Messias, wat ook die Christus genoem word, kom, Hy alles aan
hulle bekend sal maak. Toe sê Christus openlik vir haar: “Dit is Ek,
Ek wat met jou praat.” – Johannes 4:26. Hiermee bevestig Christus
sy Godheid. Daarmee sê Hy dat Hy die Messias is, die Christus,
die Gesalfde. As Gesalfde is Hy die hoogste Profeet en Leraar wat
God se verlossingsplan ten volle aan ons bekend maak.
Hoe bereid is ons om na God se hoogste Profeet te luister?
Hóór ons maar net wat Hy sê, of is ons bereid om onvoorwaardelik
te gehoorsaam? Die belangrikste enkele karaktertrek van ‘n Christen
is nié hoeveel van God se Woord hy ken of weet nie, maar hoeveel
hy uitleef!
Die waarheid van God se Woord bly vir jou sonder krag,
totdat dit deur gehoorsaamheid in jou lewe tot uiting kom.
Ernest