Johannes 6:35: “Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat
lewe gee. Wie na My toe kom sal nooit weer honger kry nie,
en wie in My glo sal nooit weer dors kry nie.”
Eet en drink is die enigste manier waardeur jy iets wat buite
jouself is, inneem, dat dit deel van jou gestel word. Brood is
bedoel om geëet te word. Jy proe nie net daaraan nie. So moet
Jesus ook “geëet” word. Dit beteken dat jy deur die geloof Hom
moet toe-eien, Hom moet inneem in jou lewe, Hom deel van
jouself moet maak. Jesus buite jou help jou niks, as Hý nie jou
lewe word nie! Brood in die broodblik help niks, as jy dit nie
inneem en dit jou versadig en lewe gee nie.
Jesus sê spesifiek “Ek is die brood wat lewe gee”.
Wie na Jesus toe kom, sal nooit honger kry nie.
Jy moet na Jesus toe kom! Jesus sê ses keer dat mense na Hom
toe moet kom! Jesus sê ook vyf keer dat hulle in Hom moet glo!
Om na Jesus toe te kom veronderstel dat jy afskeid neem van jou
vorige lewe, en uittree uit jou vorige sondige lewe, doelbewus!
Jy gryp Jesus as jou Verlosser aan. Jy aanvaar Hom as die enigste
Een wat vir jou lewe kan gee. Vir altyd. Jy moet ‘n wilsbesluit neem.
Jy moet al jou vertroue vir ewige lewe net in Hom stel.
Hierdie woord van Jesus is ‘n uitnodigingswoord.
Dink ook aan Matteus 11:28: “Kom na My toe, almal wat
uitgeput en oorlaai is en Ek sal julle rus gee.
Wanneer Jesus by geleentheid aan die dissipels vra of hulle nie
ook van Hom wil weggaan nie, het Petrus geantwoord: “Here,
na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee”
– Johannes 6:67-68. Dit het veral betrekking op die woorde van
Jesus dat Hy die brood is wat lewe gee. Christus, die Brood,
bring skeiding. Sommige verwerp dit, ander aanvaar dit.
Dit is altyd die uitwerking wat God se Woord het.
Ernest