In Johannes 8:12 sê Jesus: “… Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg,
sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”
Jesus het hierdie uitspraak gemaak tydens die Loofhuttefees wat ook die
“Fees van die Ligte” genoem word. By hierdie vrolike fees is baie van lig
gebruik gemaak. Groot kandelare is aangesteek, brandende fakkels is in
optogte gedra, die tempel is helder verlig, en alles kon van ver af gesien
word. Vir die Jode was dit ‘n herinnering aan die vuurkolom waarmee
God hulle voorvaders deur die woestyn gelei het.

Nou sê Jesus, in hierdie konteks, dat Hý die ware lig is. Hý is die ware
lig wat duisternis verdryf! Dit herinner ook aan God wat op die eerste
skeppingsdag lig geskep het en daarmee lig en duisternis van mekaar
geskei het. Soos die eerste skepping begin het met die woorde:
“Laat daar lig wees...”, so begin die herskepping met Christus se verklaring:
“Ek is die lig.” Waar Christus is, verdwyn die duisternis, ook in jou lewe.
Hy, die Lig, skyn in die duisternis en die duisternis kan dit nie uitdoof nie
– Johannes 1:5.

Met hierdie uitdrukking sê Jesus dat Hy die ware lewe gee. Jy kan die ware
lewe net by Hom kry. Buite Jesus Christus is daar nie lewe nie. Dit is van die
uiterste belang om dit goed te begryp: Christus is nie vir almal die Lig nie.
Hy is die Lig nét vir hulle wat Hom volg.

Nou sê Christus ook in Matteus 5:14: “Julle is die lig vir die wêreld...”
Jesus noem hier sy volgelinge dieselfde as wat Hy Homself noem!
Ons moet dieselfde eienskap openbaar wat Hy besit. Ons moet sy beeld
vertoon. Dit is ons roeping en voorreg om, soos Christus, die lig vir die
wêreld te wees. Die vraag is: Hoe laat ek my lig skyn, daar waar ek leef,
ter wille van Christus? Hoe skyn Christus se lig deur my?
Efesiërs 5:8 beklemtoon: “Vroeër was julle die ene duisternis,
maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig.”
Dit is ons elkeen se roeping... dat Christus se lig deur ons
sal skyn in hierdie wêreld!

Ernest