Johannes 10:7: “Toe het Jesus verder gesê: “Dít verseker Ek julle:
Ek is die ingang vir die skape.” Ook in vers 9 sê Jesus: “Ek is die
ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word...”
Hierdie ingang is soos ‘n deurgang wat altyd oopstaan, maar wat
tog die enigste ingang tot hierdie kraal is. Met hierdie woord beklemtoon
Christus dit, dat daar geen ander manier is om redding te vind as deur
Hóm nie. Dit is vir Christus so ‘n ernstige saak dat Hy, volgens die Griekse
teks, by altwee geleenthede sê: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Ek, Ek is die
ingang.” Die dubbele “amen” beteken: Dit staan vas, dit is werklik so.
“Dit verseker Ek julle...”.
Nie ander godsdienste nie, nie mense se goeie dade nie, nie ‘n voorbeeldige
lewe nie, nie kerklidmaatskap nie... of wat ookal, kan jou red nie. Christus se
dubbele beklemtoning dat nét Hý die ingang is, trek ‘n dik streep deur alle
ander opvattings.
Christus wil jou red, maar jy moet bereid wees om jou te laat red, deur in
te gaan deur die Ingang, Jesus Christus self. Jesus sê: “As iemand deur My
ingaan sal hy gered word.” Hiermee sê Christus dat alle mense wat nog nie
in Hom glo en Hom aangeneem het nie, ongered is – Lees verseker Joh 1:12.
Iemand wat deur Christus, die Ingang, toegang verkry het tot die kraal waarin
God se kinders is, word nie net gered nie, maar ook bewaar. Jesus bring ons
nie net veilig in die kraal nie, maar Hy beskut ons ook as ons reeds daarbinne is.
Hy bid ook vir ons, en vra dat die Vader ons van die Bose bewaar wat “van ‘n
ander kant inklim”... en wat “net kom steel en slag en uitroei.” – Joh 10:1 en 10.
In Johannes 17:15 lees ons: “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem
nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar.” Hebreërs 7:25 sê: “Daarom kan
Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd
om vir hulle by God in te tree.”
Dit is ‘n merkwaardige en wonderlike versekering en boodskap!
Van die geredde mens sê Jesus: “Hy sal in en uit gaan en weiding kry” – Joh 10:3,9.
Deur dieselfde ingang gaan die skape in na veiligheid en uit na weiding. Dit gaan nie
net oor redding nie, maar ook oor groei in jou verhouding met die Here.
Ons kan nie dag en nag in die kraal bly nie, sonder kos en water nie. Dink net na
oor wat Jesus vir ons beteken. Daarom moet die drang ook by ons wees om alle
mense na Jesus te roep en met ons lewe na Jesus te lei. In Johannes 10:16 sê Jesus:
“Ek het nog ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei.
Hulle sal na My stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder.”
Ons word hierdeur opgeroep en uitgestuur.
Gehoorsaam die Here... Gaan en verkondig, getuig,
en leef hierdie lewe in Christus!
Ernest