Johannes 10:11: “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy
lewe af vir die skape.” Ook vers 14: “Ek is die goeie herder. Ek ken
my skape, en my skape ken My...” In die Ou Testament word God
meermale die herder van sy volk en sy kinders genoem. Psalm 23:1:
“Die Here is my herder.” Ook Jesaja 40:11: “Soos ‘n herder versorg
Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra
hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie.”

Jesus is sowel die ingang waardeur die skape in sy kraal kom,
as die herder van daardie skape wat deur Hom ingegaan het.
Dit beklemtoon die veelkantigheid van Jesus se werk. Wie Jesus ís
en wat Hy dóén kan nie net met een beeld beskryf word nie.

Die eerste kenmerk is dat ons herder ‘n goeie herder is. Met volle
vertroue kan jy jouself volkome toevertrou aan die herderlike sorg
van die goeie herder. Hy kén ook sy skape. Die Here het volle kennis
én begrip van my en my omstandighede. Hy is persoonlik by my betrokke.

As kind van die Here is jy nie ‘n leierlose mens nie, want Jesus loop voor
jou uit, ook in die moeilikste omstandighede. Die goeie herder lê selfs
“sy lewe af vir sy skape”. Dink net daaroor: die herder het jou innig lief!
Hy gee aan jou die voluit-lewe! Oorvloedige lewe! In Johannes 10:28-29
sê Jesus: “Ek gee hulle die ewige lewe en hulle sal in alle ewigheid nooit
verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie... en niemand
kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.”

Oor sy skape sê Jesus ook baie belangrike waarhede:
Hulle luister na sy stem! Dit is om te hoor, en gehoorsaam te wees.
Hulle vólg Hom! 1 Johannes 2:6 sê: “Wie beweer dat hy in die Here bly,
behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.”
Jy is of vír Jesus, of téén Hom. Jy kan nie ‘n neutrale posisie inneem nie.
Luister na die Here!... en vólg Hom...

Ernest