In Johannes 11:25 sê Jesus vir Marta:
“Ek is die opstanding en die lewe.
Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook...”
Wat beteken dit as Jesus sê “Ek is die opstanding...”?
Dit beteken dat elke mens wat in Hom glo, ook die opstanding
tot die lewe het. Elke volgeling van Jesus besit reeds die opstanding
omdat jy aan Jesus verbind is. Dit is ‘n feit omdat dit geïdentifiseer is
met die werklikheid van die Persoon van Jesus. Jesus sê nie net Hy
wek die dooies op, of Hy bewerk die opstanding nie.
Hy sê “Ek ís die opstanding...” Die opstanding tot die lewe is
onlosmaaklik aan die Persoon van Jesus verbind. Dit kom tot volle
openbaring op die dag, die wederkoms, wanneer Jesus sal terugkom.
Maar, dit het ook betrekking op die hier en nou van ons lewe.
Die opstanding van die gelowiges geskied nie net eendag nie,
maar elke dag! Jesus is nóú reeds vir elke gelowige die opstanding!
Jy kan en moet triomferend lewe! Jy kan méér as ‘n oorwinnaar wees,
sê Romeine 8:37. Jesus ís jou Verlosser, die opstanding!
Jy kan voortdurend die krag van Jesus se opstanding ondervind!
Saam met Paulus kan jy in Filippense 3:10 uitroep: “Al wat ek wens,
is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind...”
Jesus se opstanding raak nie net Homself nie. Dit is meer as ‘n
persoonlike oorwinning oor die dood. Dit raak elke gelowige.
Paulus skryf in Efesiërs 2:6: “Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam
met Hom opgewek uit die dood.” Dit is ‘n geweldige gedagte en
waarheid! Ons maak elke beweging van Jesus mee. Wat Hy doen,
doen ons ook. Waar Hy is, is ons ook. Ons word saam met Hom
gekruisig en begrawe. Ons word saam met Hom uit die dood opgewek.
Nou reeds! Ons het reeds saam met Hom opgestaan!
Hy is die opstanding, en ons is een met Hom!
Paulus bid dat die Efesiërs sal begryp hoe geweldig groot die krag
van God is “... wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige
werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die
dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het... ”
Ons kan elke dag hierdie geweldige groot krag ondervind!
Ernest