“Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe.
Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat in My glo,
sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” – Johannes 11:25.
Toe Jesus hierdie woorde gesê het, het Hy na ons huidige lewe op aarde,
sowel as ons toekomstige lewe in die hiernamaals verwys.
Wat ons huidige lewe op aarde betref, wys Christus se aanspraak veral
op die kwaliteit van ons lewe. Hy sê in Johannes 10:10 ons het hierdie
lewe in oorvloed. Ons besit nie van nature hierdie lewe nie. Jy ontvang
dit as jy weer gebore word, in Christus deur die Gees. Daarmee begin
jou Christelike geestelike ware lewe. Hierdie lewe moet steeds ontwikkel
en groei tot geestelike volwassenheid – só volwasse soos Christus self is,
sê Efesiërs 4:13. Daar is net een manier om hierdie kwaliteit lewe te besit.
Dit is om innig aan Christus verbind te wees.
Paulus sê in Filippense 1:21: “... want om te lewe is vir my Christus, en om
te sterwe is vir my wins.” Die woorde “vir my” dra besondere klem. Dit is
asof Paulus sê: Vir ander mense mag om te lewe baie ander dinge beteken,
maar vir my is om te lewe Christus. Dit is ‘n persoonlike belydenis. Dit is nie
net ‘n mooi lewensideaal nie. Elke gelowige moet groei om te kan sê:
Om te lewe is vir my Christus. As ons daagliks in Christus se voetspore volg,
ontdek ons wat wáre lewe is.
Om werklik te lewe, word nie deur uiterlike omstandighede bepaal nie.
Lewens-vervulling, die wete dat God ‘n doel het met jou lewe, en dat
daardie doel vervul word, bepaal of jy werklik léwe.
Dan léwe jy ongeag jou omstandighede.
“Ek is die lewe” beteken ook die ewige lewe in Christus. Dit het geen
onderbreking en geen einde nie. Die dood bring wel ‘n einde aan die
aardse bestaan, maar nie aan die lewe wat Jesus gee nie.
“God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun.
Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie,
het ook nie die lewe nie” – 1 Johannes 5:11-12.
Die heerlikheid van ‘n lewe waar Christus jou lewe is, loop uit op
‘n nog groter heerlikheid wanneer ons by sy wederkoms in sy
heerlikheid sal deel. Só werklik is dit dat Johannes kan sê:
“Ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees”
– 1 Johannes 3:2.
Dit is waarheen ons op pad is as Jesus ons lewe is!
Ernest