Johannes 14:6: “Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg,
en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader
behalwe deur My nie.”
Die pad na die hemel is nie ‘n sisteem of lewensbeskouing
of ideologie of ‘n leer nie. Selfs nie eers die Bybel nie. Jy moet
kan sê: Ja, want Jesus het my verlos. Ek behoort aan Hom.
Om Hom “... te ken, oortref vir my alles in waarde.” – Fil 3:8.
Slegs Jesus lei jou na die Vader. “Niemand kom na die Vader
behalwe deur My nie.” – Joh 14:6.
Jesus is nie een van verskeie paaie nie. Hy is die enigste pad
na die Vader. Ons klim nie die berg van verskillende kante en
kom by dieselfde plek uit nie.
‘n Pad help jou niks as jy net van die pad weet nie. Dit bring jou
nog nie by die bestemming uit nie. Jy moet op die pad gaan om
jou bestemming te bereik. Dit is ‘n eenrigtingpad. Dit bring jou
na net een plek: By die Vader. Die weg is reeds vir jou berei deur
Jesus. Gaan leef in Hom op hierdie pad. Jy kan met volle sekerheid
van jou bestemming op hierdie pad gaan.
Loop elke dag op hierdie pad. Hierdie weg is gebou om die
swaarste vrag te dra. Dit maak nie saak hoe swaar die vrag van
jou lewe is nie. Verdriet, of eensaamheid, of siekte, of bekommernis,
of skuld... hierdie pad kan dit alles dra. Dit bring jou altyd by die Vader.
Hebreërs 10:20 sê dat Christus deur sy kruis ‘n nuwe pad, wat na die
lewe lei, vir ons oopgemaak het. Hy self is daardie Pad.
Loop elke dag daarop! Dit bring wonderlike vreugde en vrede.
Dit eindig eendag in die hemelstad van Openbaring 21:21.
Mense van hierdie Weg is nie soekend en koerslose mense nie.
Hulle wéét waarheen hulle gaan. Hulle lééf reeds op die Weg.
Ernest