Johannes 14:6: “Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid...”
Jesus is die waarheid. Die waarheid dra jou deur alles heen. Dit gee jou
sekerheid. Dit staan in teenstelling met die leuen. Die eintlike waarheid
of trou is net by God te vind. Met hierdie woorde van Jesus sê Hy dat Hý
die absolute betroubare Een is. Die vastigheid wat nooit wankel nie.
Die Een wat sy beloftes hou. Hy is wérklik alles wat Hy voorgee om te wees.
Hy Self is die waarheid.

Johannes skryf: Jesus is vol waarheid. Die waarheid het deur Jesus gekom.
Hulle wat aan Jesus se woorde getrou bly, sal die waarheid ken. Die waarheid
sal hulle vry maak. Jesus is gebore en het in die wêreld gekom met die doel
om oor die waarheid getuienis af te lê. Elkeen wat aan die waarheid behoort
luister na Hom (Johannes 1:14, 17. 8:32. 18:3,7.)

Die toppunt van Jesus se verbinding met die waarheid, is sy stelling dat Hý
die waarheid ís! Hy is nie net vol waarheid nie. Hy bring nie net waarheid nie.
Hy verkondig nie net die waarheid nie. Hý ís die waarheid! Die waarheid is
nie verborge nie! Die Griekse woord vir waarheid beteken: dit wat nie
verborge is nie, maar onthul is. Ons hoef nie soos die filosowe ‘n moeisame
soektog na die waarheid op tou te sit nie. Die waarheid, Christus, soek na jou!
Dink daaroor... dit is bevrydend! Hy staan voor jou.
Omhels Hom en jy omhels die waarheid.

In Christus is al die woorde van God saamgevat. Johannes 1:1 sê:
“In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord
was self God.” Vers 14 sê dan verder: “Die Woord het mens geword en onder
ons kom woon...” Hierdie één Woord maak God se hart vir ons oop.
Wanneer Christus sê Hy is die waarheid, sê Hy dus: Ek, die Woord van God,
is die waarheid. Hierdie één Woord bevat die volle waarheid. Dit sê hoe God
oor die mens dink, hoe lief Hy die mens het, en tot watter heerlikheid Hy
hom op aarde én in die hiernamaals wil voer. As Hy sê: “Ek is die weg en die
waarheid en die lewe” beteken dit ook dat Hý, en Hy alleen, in waarheid
die weg en die lewe is!

Hierdie waarheid het baie belangrike implikasies vir ons lewe. Ons moet
immers beeld-draers van Christus wees. Daarom moet die waarheid een van
die die kenmerke in ons lewe wees. Om in verbondenheid met Christus te
lewe is waarheid noodsaaklik. Dit is onmoontlik om gemeenskap met die
Here te hê in valsheid. “Wie het die reg om in U woonplek te kom, Here?
Wie mag op U heilige berg vertoef?” vra Dawid. Hy antwoord dan self:
“...hy wat met sy hele hart die waarheid praat.” – Psalm 15:1-2.

Paulus sê ook: “In my verbondenheid met Christus praat ek die waarheid...”
- Romeine 9:1. Aan die Samaritaanse vrou het Jesus gesê dat die Vader
mense soek wat Hom “deur die Gees en in waarheid” aanbid – Joh 4:23-24.
In ons geestelike stryd moet die Christen as deel van die wapenrusting
“die waarheid as gordel” om sy heupe bind – Efesiërs 6:14.
Sonder waarheid is geestelike groei tot volwassenheid nie moontlik nie.
Oordink jou lewe... en gaan lééf in die waarheid.

Ernest