Wanneer Jesus in die tuin van Getsemane gevange geneem
word deur die soldate en wagte, dan vra Hy: “Vir wie soek julle?”
Hulle antwoord dan: “Jesus van Nasaret”. Daarop sê Jesus: “Dit is Ek.”
Hiermee sê Hy: Ek is Jesus van Nasaret. Letterlik: Ek is Jesus,
die Nasarener – Johannes 18:3-5. Jesus sê twee dinge:
Ek is Jesus, en ook Ek is die Nasarener.
Die naam Jesus was ‘n bekende mansnaam onder die Jode.
Dat Christus dus “Jesus” genoem word, het nie vir die man op straat
besondere betekenis gehad nie. Maar hier in Getsemane, op pad na
die kruisiging op Golgota, het dit besondere betekenis as Jesus dit sê.
Matteus 1:21 praat van die opdrag wat Josef gekry het oor die geboorte
van Jesus: “Jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle
sonde sal verlos.” Jesus is die volle betekenis van die Naam:
Jesus is die Saligmaker. Jesus is die Heilbringer. Jesus is die
Verlosser of Redder.
Wat beleef jy as jy die Naam “Jesus” hoor?
Daar was ook ‘n ander geleentheid toe Jesus Homself bekend gestel
het as: “Ek is Jesus van Nasaret”, in Handelinge 22:8. Dit was toe
Jesus op die Damaskus-pad aan Paulus verskyn het. Net Jesus kan die
mens van sonde verlos. Hoekom voeg Jesus by: “van Nasaret”?
Ons onthou dat Nataniël gevra het: “Kan daar iets goeds uit Nasaret
kom?” – Johannes 1:46. Ons kan dink hoekom. Nasaret word nie eers
in die Ou Testament genoem nie. Tog kies God juis vir Nasaret as die
plek waar Jesus sou opgroei. Toe Christus mens geword het, het Hy
nie as ‘n vername uit ‘n vername plek gekom nie.
Jesus het nie skoonheid of prag gehad nie. Hy was verag en nie
gereken nie - Jesaja 53:2-3. Hy het Homself letterlik verneder deur
‘n dienskneg gestalte aan te neem, en tot die dood aan die kruis
gehoorsaam te wees – Filippense 2:7-8.
Met reg kan Jesus vir ons sê: “Leer van My... want Ek is nederig
van hart!” – Matteus 11:29. Hy is Jesus, die man van Nasaret.
Hy is Jesus omdat Hy vir ons Immanuel geword het. Ook vir jou
wil Hy dit ten volle wees. Hy wil vir jou die heerlikheid daarvan
laat smaak. Om só aan Christus te dink, vul ons met dankbaarheid,
krag, troos en blydskap.
Ernest