In Johannes 18:33-37 verskyn Jesus voor Pilatus waar laasgenoemde
op ‘n punt sê: “Dan is jy tog wel ‘n koning?” Jesus se antwoord is:
“Dit is soos u sê: Ek is ‘n koning.” Streng gesproke is dit nie een van
Jesus se “Ek is...” uitsprake nie. Jesus sê nie hier letterlik: “Ek, Ek is...”
nie. Die betekenis bly egter dieselfde. Jesus verklaar dat Hy ‘n koning is.
Jesus praat ook in vers 36 drie keer van sy koninkryk. Sy koninkryk is
egter nie van hierdie wêreld nie. Aan sy koningskap is daar ook geen
einde nie – Lukas 1:33. Behalwe vir wat in Johannes 18:36 staan,
was een van die aanklagte teen Jesus dat “Hy beweer dat Hy die
Christus, die koning, is” – Lukas 23:2.
Jesus is nie net koning nie, maar dié Koning! Aan sy koningskap is
daar geen einde nie. Juig oor Hom. Dit is natuurlik nie genoeg om
dit net te sê nie. Jou hele lewenstyl moet getuig dat Jesus die Koning
van jou lewe is. Voor Christus as Koning swig ook die Satan.
Dit wil Jesus ook elke dag in jou lewe doen. “Die Seun van God het
juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.” – 1 Joh 3:8.
Deur Jesus se opstanding is die dood oorwin, sodat Hy ons die
geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kan maak.
Hy het gesterf omdat mý sonde op sy rekening geskryf is. Hy het
opgestaan sodat sy onskuld oor my uitgespreek kan word.
Verder het die poorte van die hemel met Jesus se hemelvaart
oopgegaan om die magtige Koning , die Oorwinnaar in elke stryd,
ook teen die duiwel, te ontvang. Op daardie dag is daar in die hemel
feesgevier! Christus se koningskap sal veral ook met sy wederkoms
gesien word. Dit is soos Paulus skryf: Na Jesus se vernedering het
God Hom tot die hoogste eer verhef en aan Hom die Naam gegee
wat bo elke naam is. Op die dag van sy weerkoms en die finale oordeel,
wanneer Hy op sy troon sit, sal elkeen – ook ongelowiges – moet erken:
Jesus is die Here! – Filippense 2:6-11. Hy ís die ewige Koning.
Hy is die Here van die heersers.
Ek moet my aan my Koning onderwerp. Ek moet my Koning dien.
Ek moet my Koning liefhê. “Aan Hom wat vir ewig Koning is... kom toe
die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen” - 1 Timoteus 1:7.
Ernest