Tydens Jesus se verhoor voor die Joodse Raad het Hy aan hulle gesê:
“Van nou af sal die Seun van die mens aan die regterhand van die
almagtige God sit. Toe vra hulle: Dan is jy die Seun van God?”
Hy antwoord: “Dit is soos julle sê: Ek is” – Lukas 22:66-71. Dit is ‘n
geweldige aanspraak om voor hulle te maak. Dit was vir die
priesterhoofde en die Joodse Raad blatante Godslastering.
Hulle het ‘n messias verlang wat aan hulle beeld moes voldoen.

Jesus is inderdaad die Seun van God! God self noem Hom so
tydens sy doop en met sy verheerliking op die berg praat God
hoorbaar uit die hemel: “Dit is my geliefde Seun” – Matteus 3:7
en 17:5. Aan Nikodemus sê Jesus Hy is God se enigste Seun –
Johannes 3:16. As Jesus bid vra Hy die Vader: “Verheerlik U Seun
sodat die Seun U kan verheerlik” – Johannes 17:1. Petrus bely ook:
“U is die Christus, die Seun van die lewende God.” – Matteus 16:16.

Die vraag wat Christus aan sy dissipels vra is lewensbelangrik:
Maar jy, wie sê jý, is Ek? – Matteus 16:15-17. Dit is ook ‘n persoonlike
vraag aan elkeen van ons. Ons belydenis dat Jesus die Seun van God is
moenie net woorde wees nie. Ons moet dit uitleef.
In ons hele menswees moet dit voorop staan. “God het ons die
ewige lewe gegee en dié is deur sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe;
wie die Seun van God nie het nie, het ook nie die lewe nie.” –
1 Joh 5:11-12.

Ernest