In Openbaring 22:13 sê Jesus: “Ek is die Alfa en die Omega,
die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde”. Vergelyk ook
Openbaring 1:8 en 21:6. Christus het gedurende sy aardse lewe,
sowel as verhoogde en verheerlikte Christus “Ek is...” uitsprake
gedoen. “Ek is die Alfa en Omega...” is een van Christus se uitsprake
as verhoogde en verheerlikte Christus. Christus is nie nét die Alfa
en Omega nie, maar ook alles tussenin. In Afrikaans het ons die
uitdrukking: A tot Z. Dit beteken alles, alles insluitend. Dit is ook
waar van hierdie uitspraak van Christus. Jesus Christus omspan
die hele tydspan. Hy bepaal die begin, die verloop, en die einde.
Oor alles strek sy almag.

Hy wat sonder begin is, begin alles. Hy sê dat Hy ook die einde ís.
Hy is die Eerste en die Laaste. Voor enige iets anders, was Hy reeds
daar. Hy is ook die Laaste. Hy sal nog altyd daar wees al het alles
hoe ookal verander en verdwyn. Lees gerus Johannes 1:1-3 en
Kolossense 1:16-17. Elke gelowige moet daarvan oortuig wees:
“... dat God wat die goeie werk in my begin het, dit enduit sal voer
en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus kom” – Fil 1:6.
Christus is nie net ‘n deel van ons verlossing nie.
Hy is ons hele verlossing van A tot Z.

Dit maak nie saak by watter letter jy in jou lewe is nie, watter
omstandighede dit ookal mag wees nie, Christus is ook daardie letter.
“Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in alle ewigheid”,
sê Hebreërs 13:8. Soos Christus in die begin alles is, en ook aan die
einde alles sal wees, so is Hy ook nóú alles. Wanneer Christene in die
moeilikste omstandighede denkbaar mag wees, kan hulle weet dat
Christus dáár is en dieselfde as altyd is! Dit is ons krag, ons vrede en
ons ruspunt. Christus kan hoegenaamd nie “beheer verloor” nie,
al lyk dit hoe sleg in hierdie wêreld.

Alfa en Omega – hierdie Naam waarborg dat God se plan elke dag
tot in die fynste besonderhede uitgevoer word, en dat niks dit kan
ontspoor nie. Hy wat ewig is... is onvernietigbaar.
Hebreërs 12:1-2 kry nuwe betekenis: “Laat ons elke las van ons afgooi,
ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat
vir ons voorlê met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus,
die Begin en Voleinder van die geloof.” Die Begin en die Voleinder,
is die Alfa en Omega!

Ernest