Christus sê: Ek is die helder Môrester – Openbaring 22:16.
Hierdie naam het ‘n dubbele betekenis. Dit dui op die koningskap
van Christus, én die nuwe dag wat Hy aankondig. Die ster was destyds
die simbool van ‘n koning. Die sterrekykers het byvoorbeeld gevra na
die koning wat gebore is, want hulle het sy ster gesien.
Die ster het hulle na Jesus gelei.

Iemand vra: Wat sou gebeur as die sterrekykers Jesus nie gevind
het nie... as hulle meer as 30 jaar na Hom gesoek het? Dan het hulle
by ‘n kruis uitgekom met ‘n bordjie: Dit is die koning van die Jode.
Hy dra ‘n onverwagte kroon, ‘n doringkroon. Ook ‘n onverwagte kleed:
‘n Pers mantel as spot-kleed, en ‘n onverwagte septer, ‘n stok...
Dan sou hulle ook hoor hoe Hy in sy Godverlatenheid uitroep, en hulle
sou drie ure in die duisternis gesit het sonder sterre.
Sou hulle dan nog voor Hom gekniel het en Hom hulde bewys het?

Om die helder Môrester, dié Koning te wees, moes Jesus hierdie pad
van lyding loop. Dit gee vir ons alle rede om Hom as ons Koning te aanbid!
Vir sy volgelinge is Jesus nou die geliefde septer-draer, vir sy vyande die
gevreesde swaard-draer. Aan sy koningskap is daar geen einde nie!
Hy en Hy alleen besit die ewige regeermag. Hy het nou vir ewig die
Naam wat bo elke Naam is. Erken Hom as jou ewige Koning!

Matteus 28:18: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.”
In Openbaring 22:16 gee Christus aan Homself drie name : Hy is die Wortel
van Dawid, die Nakomeling van Dawid, en die Helder Môrester. Al drie die
name in die laaste boek van die Bybel verwys na die regeermag van Christus.
Christus heers as Koning oor die kerk én die wêreld – Efesiërs 1:10,
...of die wêreld dit wil weet of nie...

Jesus, die helder Môrester kondig aan dat nag verby is. Hy bring ewige lig!
Paulus skryf vir die Efesiërs: “Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou
in die Here is julle lig” – 5:8. Ook vir die Korintiërs skryf Paulus: “God...
het ook in ons ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die
heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal”- 2 Kor 4:6.
Ons “nag” is verby! Ook in die diepste put van “nag” in jou lewe,
skyn nou die strale van die helder Môrester.
Lééf soos ‘n kind van die lig!

Ernest