In die “Ek is...” uitsprake het Jesus Homself meestal direk met die een
of ander voorwerp vergelyk. Hy sê byvoorbeeld: “Ek is die brood...”,
Ek is die lig...”
Daar is egter ‘n aantal “Ek is” uitsprake wat deur ‘n stelling gevolg word.
Een hiervan is Jesus se woorde wat letterlik vertaal kan word met: “Ek,
Ek is die Een wat oor Myself getuig.” – Johannes 8:18. Christus het dit gesê
nadat die Fariseërs Hom beskuldig het dat Hy gedurig van Homself praat.
Hy sê ook dinge oor Homself en wat Hy kom doen, sonder enige bewyse.
Watter bewyse kan Hy lewer dat wát Hy sê wáár is? Hierop antwoord Jesus:
Maar Ek hét so ‘n getuie, naamlik die Vader wat My gestuur het! Daar is dus
twee getuies: My Vader en Ekself.

Hierdie “Ek is” uitspraak van Jesus gee ook ‘n beskrywing van sy taak.
In Openbaring 1:5 en 3:4 word Jesus die geloofwaardige en ware Getuie
genoem en dit word bevestig met ‘n “Amen!” Dit is dus werklik só. Voor Pilatus
getuig Jesus: “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en
hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom” – Johannes 18:37. Jesus se hele lewe is
een deurlopende getuienis van die Waarheid, want Hy is die Waarheid.

Dit geld al Jesus se “Ek is” uitsprake. Jesus se getuienis is eerstehands oor die
waarheid. Dit is nie hoor-sê getuienis nie. Jesus is die enigste een wat volledig
gesaghebbend oor God kan praat. Hy het God gesien en daarom kan Hy God
bekendmaak – Johannes 1:18. Wie Hom sien, sien die Vader. Wat Hy getuig,
het Hy direk van die Vader ontvang – Johannes 14:9-10. Jesus se uitsprake,
sowel as sy dade, is sy getuienis – Johannes 5:36. By Jesus dra woord en daad
dieselfde boodskap.

Jesus se kragtigste getuienis was sy sterwe aan die kruis. Hy gee Homself as
losprys vir ons. Dit is die bewys dat Jesus se selfgetuienis waar is. Hy het nie
net ‘n mooi voorbeeld kom leef nie. Jesus het sy getuienis met sy dood verseël.
Jesus se getuienis oor Homself, word bevestig en bekragtig deur die Vader wat
Hom gestuur het en die Heilige Gees wat Hom gevul het. “God het Hom immers
gestuur en Hy spreek die woorde van God, want God gee Hom sy Gees sonder
enige beperking.” – Johannes 3:34.

Na Jesus se opstanding uit die dood is Hy “deur die Gees aangewys as die Seun
van God wat met mag beklee is” – Romeine 1:4. Die Gees sit Jesus se werk voort
en lei gelowiges in die hele waarheid, en verheerlik Jesus deur dit wat Hy van Jesus
ontvang, aan hulle te verkondig – Johannes 16:13-14. Die getuienis van die Heilige
Gees oor Jesus is onskatbaar groot. Dit is die getuienis wat die Heilige Gees deur
die Skrif oor Jesus Christus lewer. Die Bybel is wel deur mense geskryf, maar hierdie
mense is almal deur die Heilige Gees meegevoer en geïnspireer om te skryf wat
hulle geskryf het – 2 Timoteus 3:16.

Nou is daar die belangrike teks wat elke kind van God moet onthou:
“Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal My
getuies wees...” – Handelinge 1:8. Jesus het ook reeds in Johannes 15:26-27 gesê
“... en julle moet getuig...” Die Heilige Gees en die dissipels, ons, is getuies van Jesus.
Ons getuig ook juis, deur die Gees, van Jesus en oor Jesus!
Dit is ons voorreg en ons vreugde!

Ernest